On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Anny
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Facebook-verkragter bedryf miljoene rande se skelmspul uit tronksel

───   MORNÉ VAN ROOYEN 10:41 Sun, 26 Mar 2023

Facebook-verkragter bedryf miljoene rande se skelmspul uit tronksel | News Article

Thabo Bester het Johannesburg se glansbrigade ’n rat voor die oë gedraai met ’n slenterspul van miljoene rande terwyl hy tronkstraf vir verkragting en moord in die Mangaung-gevangenis in Bloemfontein uitgedien het.

Bester (34) is in 2012 75 jaar en lewenslange tronkstraf opgelê vir verskeie rooftogte en verkragtings nadat hy vroue deur Facebook gelok het met beloftes van internasionale modelkontrakte.

Sover bekend was sy enigste moordslagoffer die motorverkoopspersoon Nomfundo Tyhulu, wat in 2011 ’n BMW aan hom verkoop het en met wie hy later ’n verhouding aangeknoop het. Hy het haar in ’n Kaapse oornagplek doodgesteek.

Korrektiewe Dienste het Saterdag (25/3) bekendgemaak ’n nadoodse ondersoek het getoon die man wat in Mei 2022 in Bester se tronksel doodgebrand het, was iemand anders. Bester is dus reeds meer as tien maande op vrye voet.

’n Foto van ene Tom Motsepe op Twitter waarop “Tom” (Thabo Bester) se kop op die lyf van die akteur Michael B. Jordan geplak is.

Destyds is geglo Bester het sy eie lewe geneem deur homself in sy Bloemfonteinse sel aan die brand te steek. Die oorskot was onherkenbaar.

In die nadoodse ondersoek, waarvan die uitslag eindelik op Saterdag (25/3) bekendgemaak is, is vasgestel die slagoffer was reeds dood vóór die brand ontstaan het. 

Die longe toon geen tekens van rookinaseming nie, maar die skedel is ’n harde hou met ’n stomp voorwerp toegedien, wat selfmoord as die oorsaak van sy dood uitskakel.

Korrektiewe Dienste het uit dié bevindings afgelei Bester moes tydens die brand op 3 Mei 2022 in sy sel uit die gevangenis ontsnap het. Die polisiediens is intussen steeds besig met sy ondersoek na die voorval.


Intussen het dit aan die lig gekom Bester het in 2018 agter tralies ’n geleentheids-en-produksiemaatskappy gestig wat op ’n spoggerige geleentheid in die Hilton-hotel in Sandton bekendgestel is. Dis bygewoon deur ’n rits glanspersoonlikhede soos die aktrises Yvonne Chaka Chaka en Amanda Du-Pont.

Bester het hom voorgedoen as die “voorsitter” van 21st Century Media. Dis blykbaar so genoem om dit te laat lyk na ’n filiaal van 21st Century Fox, die Amerikaanse massamedia-en-vermaakkonglomeraat wat in 2019 deur The Walt Disney Company oorgeneem is.

Bester het die glansryke gehoor tydens die bekendstelling van ’n gewaagde slenterspul op sy 30ste verjaardag in Sandton vanuit sy tronksel in Bloemfontein toegespreek toe hy hom as ene Tom Motsepe voorgedoen het.

Tydens die bekendstelling van die fop-maatskappy is die opgetofte gehoor meegedeel die voorsitter, ene Tom Motsepe, sou hulle per video-oproep uit New York toespreek. Bester het glo met dié naam daarop gesinspeel dat hy verwant is aan die miljardêr-sakeman Patrice Motsepe.

Die man op die skerms, uitgevat in ’n pak klere en met ’n wit muur as agtergrond, was niemand minder nie as Bester, wat vanuit sy sel in die Mangaung-gevangenis met hulle gepraat het, berig Daily Maverick.

’n Video met hoogtepunte van die geleentheid op 13 Junie 2018 wys hoe die gehoor vir “Tom” ’n gelukkige verjaardag toesing. 13 Junie is Bester se geboortedag.

Dr. Nandipha Sekeleni-Magudumana word beskryf as ’n Suid-Afrikaanse mediese dokter, chirurg, entrepreneur en die stigter en uitvoerende hoof van Optimum Medical Solutions.

Bester is op 30 Junie 2022, twee maande nadat hy kwansuis doodgebrand het, in ’n winkel in Sandton gewaar in die geselskap van dr. Nandipha Sekeleni-Magundumana, berig GroundUp.

Dr. Nandipha, soos sy bekendstaan, het die hooggeregshof in Pretoria in Mei 2022 genader om besit van die oorskot te neem, wat sy beweer het Bester s’n was. In haar beëdigde verklaring het sy bevestig sy het meermale geld aan Bester oorbetaal terwyl hy in die gevangenis was en ook aan Sopema Funerals in Soweto, waar die oorskot bewaar is.


Dr. Nandipha het ’n tyd lank haar volgelinge op Instagram geïgnoreer, maar intussen bekendgemaak sy keer terug na haar skoonheidspraktyk in Sandton.

Bester het na bewering dr. Nandipha se maatskappy Arum Holdings gebruik om mense met slenters te nader. In September 2022 het hy glo ’n voornemende belegger deur Arum Holdings se Instagram-rekening genooi na ’n ontmoeting om samewerking aan ’n kamtige Netflix-reeks te bespreek.

Talle mense het op sosiale media vertel hoe hulle deur Arum Holdings genader is. In een geval is iemand op eie onkoste Kaapstad toe genooi vir ’n  oudisie vir ’n kastige Netflix-program.

Bester is in 2011 aangekeer vir verkragting en minstens een moord nadat hy vroue deur Facebook gelok het met beloftes van internasionale modelkontrakte. Hy het in Mei 2022 uit sy sel in Bloemfontein ontsnap. Dit het eers onlangs aan die lig gekom.

Dr. Nandipha (33) is die enigste direkteur van die produksiefirma I Media. ’n Anonieme bron, wat nou saam met I Media werk, het aan GroundUp gesê hulle het talle vergaderings gehad met ’n man wat soos Bester lyk in die tyd toe hy nog agter tralies was.

’n Week voor Korrektiewe Dienste die uitslag van die nadoodse ondersoek op die verbrande oorskot in die Mangaung-tronksel bekendgemaak het, het brig. Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder, aan GroundUp gesê die ondersoek is in ’n kritieke stadium; “daarom sou dit nie in belang van die gereg wees om nou kommentaar te lewer nie, per advies van die ondersoekspan”.

‘Die mees opspraakwekkende ontsnapping in ons land se geskiedenis’

Omdat die uitslag van die polisie se ondersoek steeds nie bekend is nie, is dit moeilik om vrae oor die selbrand in Mei 2022 te beantwoord, het Chrispin Phiri, die minister van justisie en korrektiewe dienste se woordvoerder aan GroundUp gesê.

“As dit blyk hierdie berigte is waar, sal dit die mees opspraakwekkende ontsnapping in ons land se geskiedenis wees,” meen hy.

Nadat langer as tien maande met die lykskouing se uitslag gesloer is, is dit skielik Saterdag (25/3) bekendgemaak, ’n week nadat joernaliste by Bheki Cele, minister van polisie, wou weet waarom dit so lank duur om die identiteit van die oorskot in die sel vas te stel. Dit is steeds nie bekend nie.

Kort daarna is die Instagram-rekeninge van Arum Holdings, I Media en Optimum Medical Solutions, nog een van Dr. Nandipha se maatskappye, almal blykbaar gedeaktiveer.

’n Man wat as Bester uitgeken word en dr. Nandipha is einde Junie 2022 in ’n winkel in Sandton gewaar.

Dr. Nandi, ’n skoonheidschirurg, het intussen weer op Instagram opgeduik nadat sy haar aanhangers dae lank geïgnoreer het. “Ons stel graag al ons kliënte in kennis dat dr. Nandipha vanaf volgende week beskikbaar sal wees,” skryf sy op die platform, en voeg by alle afsprake hervat op Woensdag 29 Maart om 09:00.

GroundUp beweer sy moes die afgelope week haar huureiendom in die Johannesburgse spogvoorstad Hyde Park ontruim omdat haar huur agterstallig is. Op Instagram het sy op geen vrae oor haar beweerde verbintenis met Bester gereageer nie. Sy het ook nie GroundUp se vrae beantwoord nie.

Korrektiewe Dienste sê dis uiters belangrik dat die veroordeelde verkragter en moordenaar opgespoor word sodat hy die res van sy tronkstraf kan uitdien.

OFM-nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.