Central SA
'Vurige gebed van gelowige het groot krag’ – ouma ná fratsongeluk─── BAMBATHA GIKO 12:00 Thu, 16 Mar 2023

“ ’n Mens het geweet dis slegs die Here alleen wat kan besluit oor hierdie ding. En ’n mens het maar geglo dat die Here in beheer is daarvan.”
So vertel Magda Meyburgh (61), ’n akademiese beampte by die Universiteit van die Vrystaat, oor die geloof wat haar deurgedra het in die benoude oomblikke nadat haar dogter Magda van Tonder (31) Maandag laat weet het haar dogtertjie Leah (2) het ’n verdieping ver deur ’n venster van hul meenthuis geval.
LEES OOK: Tweejarige oorleef val deur venster
Die ouma van nege sien daarna uit dat haar dogter en dié se twee dogtertjies, Leah en ousus Emma, haar enigste kleindogters, binnekort Bloemfontein toe kom ná die spanningsvolle week weens die ongeluk wat soveel anders kon verloop het.
Leah (2) en ousus Emma van Tonder.
Meyburgh, wat weens werkverpligtinge nie na haar dogter in Gauteng kon gaan om haar by te staan nie, het Woensdag vir die eerste keer ná die ongeluk oor die telefoon met die tweejarige Leah gesels.
Die dapper kleinding, wat twee dae voor die ongeluk verjaar het, het vir haar ouma vertel dis “eina”.
“Die swelling op die kop is weg, maar dis nou in die gesiggie met die een ogie wat potblou en toe is, wat ’n teken van herstel is,” het Meyburgh Woensdag op Facebook geskryf.
‘My kind, ons het maar geleer ons kyk na die berge’
Sy bedank almal wat saam met die familie bid. “Soos Hiskia gesê het: Die vurige gebed van die gelowige het groot krag. Dit het ons weer eens ervaar.”
Meyburgh, ’n lidmaat van die Gereformeerde Kerk Bloemburg in Langenhovenpark, vertel dit was ’n groot skok toe haar dogter Maandag in trane bel om van die voorval te vertel. “Want ´n mens sit toe en weet nie wat om te sê nie.
“Maar op daardie stadium toe sê ek maar net vir haar: My kind, ons het maar geleer ons kyk na die berge, en waar sal ons hulp vandaan kom? Dit sal van die Here alleen af kom. En ek het maar net vir haar gesê: My kind, vasbyt! Ons sal vir julle bid.”
Meyburgh se eerste man, ds. Kobus van Tonder, is in 2008 op 50 oorlede nadat hy reeds in 1993 weens veelvuldige sklerose as predikant van die Gereformeerde Kerke Hennenman en Ventersburg moes uittree.
Leah vandeesweek in die hospitaal.
Sy vertel van die beklemming om haar hart omdat sy nie Randburg toe kon gaan om by haar kleindogter te wees nie. “Maar ’n mens moet bly bid, en almal rondom het gebid, en vriende van ons het bly bid.
“Uiteindelik kon ons [Dinsdagmiddag], soos in Psalm 146, sê: Prys die Here. En dan in die [Totius-beryming] deel staan daar: Salig hy wat in die lewe / sonder hulp en sonder raad / as hom alles wil begewe / vlug tot God, sy toeverlaat / en ook in die swartste nag / op die Here alleen bly wag.”
Sy is oneindig dankbaar dat klein Leah oorleef het. “Daar is soveel kinders wat doodgaan, maar die Here het my bederf.
“Hy’t een van my twee kleindogters wat dood kon gewees het, laat bly lewe en hy’t haar vir ons teruggegee.
“Ek kan net weer … sê ek prys die Here. Hy’t ons kind vir ons teruggegee dat ons haar nog [by ons kan hê]. Ek weet, ons kinders word aan ons geleen, maar ons kan haar nog ’n rukkie leen.”