On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein se Klipkerk vier 99ste verjaardag

───   BAMBATHA GIKO 15:27 Thu, 24 Nov 2022

Bloemfontein se Klipkerk vier 99ste verjaardag | News Article
FOTO: Facebook

'n Voormalige dominee van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Noord, in die volksmond bekend as die Klipkerk, sê dit is besonders vanweë verskeie redes, onder meer omdat dit deur die bekende argitek Gerard Moerdijk ontwerp is.

Dié bekende Bloemfonteinse baken is vandag, Donderdag 24 November 2022, presies 99 jaar oud nadat die planne op 4 Desember 1920 met geringe wysigings aanvaar is.


Ds. Wollie Grobler, wat sowat 30 jaar lank predikant van die gemeente was, sê die houtwerk binne is aangrypend. “Die Klipkerk is dié kerk vir troues. Vroeër dekades was dit nog meer so – geslagte mense het daar getrou… jy hoor maar van hulle kinders en kleinkinders.”


Hy sê die binnekant van die kerk is net so besonders soos die buitekant. “Die woord wat ek wil gebruik is "grootsheid". Dit weerspieël iets van die grootheid van God. Die kerk is ook natuurlik in die vorm van 'n kruis gebou, wat 'n baie sterk simboliese betekenis het.”


Bloemfontein-Noord is op 15 Oktober 1919 met 1 150 lidmate van die Moedergemeente afgestig. Die Moedergemeente het die Tweetoringkerk-gebou behou en die Gedenksaal in Hillstraat met twee pastorieë as bruidskat aan die nuwe gemeente geskenk. Eredienste is vir eers in die Gedenksaal gehou.

'n Oop erf op die hoek van Zastron- en Wes-Burgerstraat, wat aan die NG Kerk van die destydse Oranje-Vrystaat behoort het, is aanvanklik deur die kerkraad oorweeg. Toe 300 lidmate in 'n versoekskrif aandring op 'n meer geskikte terrein, is die perseel in Aliwalstraat, waar die kerk vandag is, vir £850 aangekoop.

Die argitekte Wynand Louw en Gerard Moerdijk, wat ook onder meer vir die Voortrekkermonument verantwoordelik was, wat die planne opgetrek het, is deur die boukommissie onder voorsitterskap van ds. A.F. Louw genader om 'n plan vir die kerkgebou op te trek.


Op 4 Desember 1920 is die planne met geringe wysigings aanvaar. Die gemeente se webtuiste skryf as volg oor die ontwerp van die kerk: "Moerdijk se benadering tot kerkbou word in die Klipkerk weerspieël.

Bykans al sy riglyne en norme word prakties toegepas. Die Griekse kruisvorm, die plasing van die toring, die diagonale as waarop die kansel geplaas is en die groot ronde vensters hoog bo in die gewels het 'n wending in kerkbou ingelui. Ook die materiaal is van plaaslike oorsprong – die ysterklip is in die rantjie agter die kerk uitgehaal, die vloerplanke is van Rhodesiese kiaat en die dakteëls is in Suid-Afrika vervaardig."

'n Besluit oor die grootte van die gebou is in April 1921 aanvaar. Op 30 November 1921 was die volledige planne in die hande van die boukommissie, wat aanbeveel het dat 'n tender van £18 450 van die Gebroeders Craig aanvaar word.


Die kerkraad het egter besluit dat die planne gewysig moet word om vir 800 pleks van 900 sitplekke voorsiening te maak. Nadat die argitekte weer eens veranderings aan die planne aangebring het, is 'n tender van dieselfde bouaannemers ten bedrae van £11 413 pond uiteindelik op 7 Oktober 1922 aanvaar.

As voorwaarde is gestel dat die gebou voor of op 7 Oktober 1923 voltooi moes wees. Heelwat later sou die besluit die gemeente duur te staan kom, want in die vroeë sestigerjare het die aanbou van 'n noordelike gewel en galery, sowel as 'n nuwe konsistorie en doopkamer, ongeveer net soveel gekos as die oorspronklike kerkgebou.


Sir Cornelius Hermanus Wessels, vader van die sopraan Cecilia Wessels en indertyd administrateur van die Vrystaat, het net oorkant die straat gewoon en 'n uurwerk vir die toring geskenk – op voorwaarde dat dit nie tydens sy leeftyd mag slaan nie.

OFM-nuus/Morné van Rooyen en Bambatha Giko

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.