On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Veldbrand woed al vier dae in Noord-Kaap

───   HEIDRÈ MALGAS 10:50 Sun, 09 Oct 2022

Veldbrand woed al vier dae in Noord-Kaap | News Article
FOTO: Verskaf.

Die veldbrande wat infrastruktuur en weiding tussen Daniëlskuil en Kuruman in die Noord-Kaap verwoes het, woed steeds voort.

Jan Joubert, voorsitter van Agri-Kuruman, vertel dat die weerlig om 04:00 Woensdagoggend die veld tussen Kuruman en Daniëlskuil aan die brand geslaan het, en teen die tyd toe hulle besef dat daar wel weerligskade is, was dit reeds ‘n relatiewe groot brand.

Hy deel dat die wind brandbestryding bemoeilik en dat brandbestrydingspanne nog hard besig is om die brand te blus.

“Die wind het met die brand gespeel in die rigting van Daniëlskuil en ook oor die R31-pad tussen Kuruman en Daniëlskuil gebrand,” vertel hy.

Joubert voeg by dat daardie selfde nag het die wind omgedraai en teruggebrand in die rigting van Kuruman.

"Dit is nou Sondagoggend 08:25, en ons is steeds besig om die vuur te baklei in die koppe tussen Kuruman en Daniëlskuil,” sê hy.

Verder het die DA in die Noord-Kaap ’n dringende beroep op die provinsiale regering gedoen om brandbestrydingsinisiatiewe in die Kalahari-streek met vliegtuie en helikopters te ondersteun.

Die desperate pleidooi kom van brandbestrydingspanne wat die afgelope dae veg teen brande wat woed in die gebied tussen Kuruman en Danielskuil, Kuruman en Kathu, en in die Lohatlha-omgewing.

Joubert vertel verder wat skade betref is daar geweldig baie weiding wat verlore is. Hy sê boere is reeds onder finansiële druk en dat daar nou groot nood in die vorm van onder meer weiding, drade, pype en pale is.

“Vir nou gaan ons tydelik voerskenkings nodig hê vir die diere wat nie alternatiewe weiding óf huurgrond so vinnig kan kry nie - net vir ‘n tyd,” sê hy.

Joubert vertel dat hy nie op die oomblik weet van beeste wat doodgebrand het nie, maar wel van huise wat al Donderdag afgebrand het.

'n Volledige ondersoek en skadebepaling sal vanaf Maandag plaasvind.

Die DA vertel ook dat die brande in presies dieselfde gebied as in 2021 uitgebreek het en ongekende skade aan duisende hektaar grond en vee aangerig het. Drie huise, in die Savanna-omgewing tussen Kuruman en Daniëlskuil, is ook afgebrand.

OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.