Central SA
Noord-Kaapse windplase deel van ooreenkoms om energiekrisis op te los─── 05:30 Mon, 26 Sep 2022
Die Franse maatskapy, EDF Renewables, is die ontwikkelaar van die eerste drie groenkragprojekte ter waarde van minstens R11 miljard as deel van die regering se poging om Eskom vanuit sy krisis te red, en sy groenkragprogram op dreef te kry.
Die aankondiging is deur die Minister van Minerale Hulpbronne, Gwede Mantashe, gemaak wat sê sowat 420 megawatt se bykomende krag sal só by die nasionale netwerk ingefaseer word.
Twee van die drie windplase, San Kraal Wind Power en Phezukomoya, is in die Noord-Kaap naby Noupoort, met Coleskop in Middelburg in die Oos-Kaap.
Bouwerk aan die windplase behoort volgens die minister binne 24 maande voltooi te wees, en aan die einde van 2024 by die nasionale netwerk aangesluit te word.
Elk van die drie plase sal 140 megawatt tot die netwerk bydra.
Die drie projekte sal ook 2 230 tydelike werksgeleenthede skep met R543 miljoen wat geoormerk is om vaardigheidsontwikkeling, sowel as verskaffing en ondernemingsontwikkeling, te ondersteun.