Central SA
Noord-Kaap Gesondheid gee verduideliking oor gestrande pasiënte─── 15:18 Fri, 26 Aug 2022

Die Departement van Gesondheid in die Noord-Kaap het toegegee dat ‘n betalingstelselfout veroorsaak het dat brandstofkaarte nie gewerk het nie.
Die waarnemende hoof van die departement, Riaan Strydom, het die hoop uitgespreek dat, in samewerking met die nasionale tesourie, hierdie tipe probleem nie weer kop uitsteek nie.
Isaac Cloete berig Maandagaand moes ‘n bussie, wat 18 pasiënte na Kimberley en Bloemfontein vervoer het, by Pofadder omdraai nadat die betalingstelsel by die vulstasie die petrolkaart verwerp het.
Die bussie kon dus nie volgemaak word nie en die bestuurder het die pasiënte terug na Springbok geneem. Dit het tot gevolg gehad dat almal se hospitaalafsprake ook gekanselleer moes word.
Inwoners was woedend.
"Dit is ‘n skreiende skande dat ambulanse nie brandstof kan ingooi nie, weens foutiewe kaarte," het Elizma Curnow Dinsdag uitgevaar.
"Ons is net voor die hospitaal op Springbok afgegooi. Dit was koud en niemand het ons ingelig wat verder gaan gebeur nie. Dus, moes ek en my ma self ‘n geleentheid huis toe kry."
Wetgewerlid en DA-woordvoerder vir Gesondheid in die Noord-Kaap, Dr Izak Fritz, het die voorval betreur en genoem dat dit nie die eerste keer is wat die petrolkaarte nie by vulstasies gebruik kan word nie.
"Die provinsiale departement het weer nie sy diensverskaffers in die Springbok- en Upington-areas betaal nie. Ons eis ‘n verduideliking van die LUR van Gesondheid, Maruping Lekwene," het Fritz ná die voorval gesê.
Die Namakwa Civic Movement het ook onlangs ‘n optog na die plaaslike distrikskantoor van die gesondheidsdepartement op Springbok gehou. Hier is 'n memorandum van griewe en ‘n petisielys oorhandig.
Strydom sê die stelsel het weer Woensdagaand aanlyn gekom en die kaarte kon weer gebruik word om betalings te doen.
OFM-nuus/Isaac Cloete