On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Landdros onttrek hom aan Bakili-verhoor

───   08:32 Tue, 05 Feb 2019

Landdros onttrek hom aan Bakili-verhoor | News Article
Kibi Stanley Bakili vroeër in die Bloemfonteinse landdroshof. FOTO: Alzane Narrain

Hy ontken dit ten sterkste dat hy 'n beskuldigde in 'n bedrogverhoor voor hom gebel het, sê streeklanddros Leavit Mkansi van die streekhof in Bloemfontein.


Hy het hom nietemin Maandag in die belang van geregtigheid aan die verhoor van Stanley Bakili (37) onttrek.

Hy het geen benul hoe 'n oproep van een van sy ou selfone af in Mei 2018 na 'n nommer van Bakili gemaak is, en of dit wel gemaak is nie. Hy weet nie hoe dit kon gebeur het nie.

Hy gebruik lankal nie meer dié selfoon met dié nommer nie. Sy selfone word deur almal in sy gesin gebruik. Dit kon dalk gebeur het dat een van sy gesinslede op ’n terugbel-boodskap gereageer het, maar hy weet nie.

Hy sê al het die staat nie genoegsame verklarings voor hom gebring om hom aan die saak te onttrek nie, het hy self besluit om in die belang van geregtigheid dit te doen.

Adv. Johan Swanepoel, die staatsaanklaer, het ook in die hof gesê in die verhoor was daar tot dusver geen teken daarvan dat Mkansi hoegenaamd partydig na enige kant toe was nie.

Mkansi het Bakili op 24 aanklagte van bedrog met valse eiendomstransaksies verhoor waarby glo sowat R1,9 miljoen betrokke is.

’n Ander landdros sal nou met die verhoor voortgaan. Bakili moet weer op 11 Maart op die bedrogaanklagte in die hof verskyn.

*In hul ondersoek na die moord op die sakeman Louis Siemens op 10 Mei 2018 in die Prellerplein-sentrum in Dan Pienaar, het die polisie onder meer die oproepe na en van ’n selfoon van Bakili nagespoor.

Só is op ’n nommer wat op Mkansi se naam geregistreer is, afgekom. ’n Oproep van 89 sekondes lank is glo van dié nommer na ’n nommer van Bakili gemaak.

Bakili word deur die staat as die baasbrein in die Siemens-huurmoord beskou.


Netwerk24


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.