Arts
Nostalgie met André Schwartz se ‘Gesigte’ tydens Clarens-kunstefees─── 09:00 Tue, 15 Apr 2025

André Schwartz kuier heerlik in die OFM Kunsteklop saam met Yolanda Maartens om te vertel oor sy produksie by vanjaar se Clarens-kunstefees wat plaasvind vanaf 1 – 4 Mei 2025.
Kan jy die eerste gesig onthou wat jy gewaar het ... vasgevang in tyd, geheue en onveranderlik? Natuurlik nie.
André Schwarts gesels oor die ontdekkingsreis wat hierdie produksie deurloop om daardie nostalgie weer vas te vang.
Gesigte vertel in beeld en musiek die eerlike herinneringe van die legio kosbare mense in André Schwartz se lewe. Hierdie produksie is benoem as beste musiekaangedrewe produksie by die Aardklop Kunstefees en sy voorloper “My keuse” benoem vir ‘n gesogte nasionale Fiësta-toekenning in dieselfde kategorie.
Soos met alle herinneringe is daar veranderlikes – ewig wisselend in die album van ons geheue; altyd nuutgeskep op die doek van ons verlange, soos lewende kuns. Elke gesig wat ons onthou, word die legkaart van ons lewens, die reuk, die musiek, die liefde. In die multimediaproduksie “Gesigte” word die werk van internasionale bekroonde portretkunstenaar André Serfontein tot lewe geroep deur die digitale kunstenaar Seun.
Elke lewensstorie van André Schwartz word verbeeld deur die unieke gesigte wat verskyn op die skerm. Klavier, kitaar en stem vertel liedere soos “From Both Sides Now”, “First Time Ever I Saw Your Face”, “The Book of Love”, en “The Rose”.
André se treffers en eie komposisies, soos die kwesbare en gewilde “Ek Haal Asem”, maak ook ‘n buiging.
Die produksie wys vanjaar by die Clarens-kunstefees, wat plaasvind vanaf 1 – 4 Mei 2025.
Kaartjies is beskikbaar by https://www.clarensartsfestival.co.za/ of by
https://tickets.tixsa.co.za/event/gesigte-andre-schwartz
OFM cg