On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Arts

Veels geluk, Mannetjies Roux, en nog 4 gebeure op 12 April

───   MORNÉ VAN ROOYEN 05:00 Wed, 12 Apr 2023

Veels geluk, Mannetjies Roux, en nog 4 gebeure op 12 April | News Article
Laurika Rauch sing vir op 25 Maart 2011 vir Mannetjies Roux op Loftus.

’n Rugbylegende van die Karoo vier sy 84ste verjaardag op 12 April, ook die sterfdag van een van die grootste Afrikaanse romanskrywers, wat in Estoire buite Bloemfontein oorlede is. Stap saam deur Sentraal-Suid-Afrika se verlede.

Mannetjies Roux is op 12 April 1939 in die Karoo gebore.

1. Stuur groete op rugbylegende se 84ste verjaardag

Die legendaries Springbok Mannetjies Roux is op 12 April 1939 op Victoria-Wes in die Bo-Karoo gebore. Hy het in 27 toetse gespeel, ses keer as vleuel en 21 keer as senter, waartydens hy ses drieë gedruk het. 

Laurika Rauch sing haar gewilde liedjie oor die rugbylegende vir hom op Loftus op 25 Maart 2011 op Loftus Versfeld. 

Roux sal onthou word vir die voorval in die 1969/70-“betogertoer” na die Britse Eilande toe hy ’n betoger met die bal gegooi het. Hy was ook deel van die Springbokspan in 1970 wat die All Blacks 3-1 in die reeks geklop het. In dieselfde jaar het hy Griekwaland-Wes aangevoer toe hulle die Curriebeker teen alle verwagtinge teen Noord-Transvaal gewen het.

Die Raad van die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat het D.F. Malherbe in 1941 tot ereprofessor benoem..

2. D.F. Malherbe sterf aan hartaanval in Bloemfontein

Die geliefde Afrikaanse digter, dramaturg en romanskrywer D.F. Malherbe is op 12 April 1969 in die ouderdom van 87 jaar in Bloemfontein oorlede. Sy roman Vergeet niet (1913) word beskou as die eerste Afrikaanse roman met artistieke waarde, maar sy bekendste werke is Hans-die-skipper (1928) en Die meulenaar (1928). Malherbe is in 1910 as professor in Moderne Tale aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein aangestel en word in 1918 die eerste professor in Afrikaans. Hy het ook ’n rol gespeel in die invoer van Afrikaans as voertaal in die Vrystaatse skole en dien van 1929 tot 1934 en weer in 1941 as rektor van die Grey-Universiteitskollege. Ná sy aftrede vestig hy hom op die kleinhoewe Kleinbos op Estoire, 10 km buite Bloemfontein.

Dr. Willem de Klerk het as redakteur van Rapport gereeld vir P.W. Botha, die staatspresident, die hoenders in gemaak met sy verligte standpunte.

3. Wimpie de Klerk op Reddersburg gebore

Dr. Willem de Klerk is op 12 April 1928 op Reddersburg in die Suid-Vrystaat gebore waar sy ma, Corrie, grootgeword het. Hy kom uit ’n sterk politieke familie. Sy oupa aan moederskant, F.W. Coetzer, was lid van die Vrystaatse provinsiale raad en sy ander oupa, ds. W.J. de Klerk, ’n Dopperdominee en politikus. Sy pa, Jan, was senator en kabinetsminister en sy tante Susan was met die eerste minister adv. J.G. Strijdom getroud. Wimpie, sy noemnaam, was ’n Potchefstroomse akademikus, Gereformeerde predikant soos sy oupa, redakteur van die oggendblad Die Transvaler en Sondagkoerant Rapport asook ’n stigterslid van die Demokratiese Party, voorloper van die DA.

ANC-lede betoog in November 2022 in Pretoria teen die borgtog aan Chris Hani se moordenaar Janusz Walus. Foto: Nigel Sibanda/Citizen

4. Land in oproer oor die moord op Chris Hani

Derduisende mense het op 12 April 1993, twee dae ná die moord op Chris Hani, die strate ingevaar om teen die dood van die bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe te betoog. Die betogers het mense aangespoor om aan ’n landwye gewapende opstand deel te neem, maar die land se leiers, wat toe besig was met die delikate onderhandelings voor die eerste demokratiese verkiesing ’n jaar later, het hulle gemaan om kalm te bly en nie die oorgang te verongeluk nie. Clive Derby-Lewis en Janusz Walus is later skuldig bevind aan die moord.

Ds. W.H. Boshoff het veral as kinderdigter ’n belangrike bydrae gelewer in ’n tyd toe daar nog min versies in Afrikaans vir die jeug beskikbaar was.

5. Geliefde Vrystaatse predikant sterf op Kroonstad

Sowat 2 000 rouklaers, die grootste skare in die geskiedenis van Winburg, het die begrafnis van ds. W.H. Boshof bygewoon nadat hy op 12 April 1918 op Kroonstad aan ’n longaandoening oorlede is. Dié boorling van Philippolis, wat ook bekend was vir sy kinderversies, het gematrikuleer aan Grey Kollege in Bloemfontein en studeer aan die Kweekskool op Stellenbosch. Sy eerste gemeente was Steynsburg van 1888 tot in 1906, toe hy na Winburg beroep is. In 1914 skeur sy gemeente toe beskuldigings teen hom ingebring word deur politieke teenstanders wat ontevrede was met sy standpunt teen die Rebellie. Die Ringskommissie bevind hom onskuldig. Ten spyte van dié onsmaaklikhede is sy prediking gewild en bly hy ’n geliefde figuur in die gemeenskap. Ds. Boshoff se huwelik was kinderloos, maar hy en sy vrou neem die twee kinders van sy oorlede dominee-broer aan ná dié se ontydige dood.

OFM-nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.