Arts
SA se grootste sokkerramp, en nog 3 dinge op 11 April─── MORNÉ VAN ROOYEN 12:03 Mon, 10 Apr 2023
Suid-Afrika se grootste sokkerramp en ’n huwelik met verreikende gevolge is van die gebeure op 11 April waarop ons vandag terugkyk.
F.W. de Klerk, laaste president van die vorige bedeling, en Wimpie de Klerk, die latere Dopperpredikant, Potchefstroomse akademikus en koerantredakteur, by hul ouers, Jan en Corrie de Klerk.
1. F.W. de Klerk se ouers trou
Wyle oudpres. F.W. de Klerk se ouers, Jan de Klerk en Corrie Coetzer, is op 11 April 1927 getroud. Corrie is op Reddersburg in die Suid-Vrystaat gebore as ’n dogter van F.W. Coetzer, provinsiale raadslid vir Edenburg. Jan se pa was die Gereformeerde predikant en politikus ds. W.J. de Klerk, wie se dogter Susan getroud was met adv. J.G. Strijdom, Suid-Afrika se vierde eerste minister. Terwyl Jan de Klerk onderwyser, senator en kabinetsminister was, het Corrie ’n wye belangstelling gehad en was veral ’n kenner van tuinuitleg en modeontwerp, waarin sy wyd belese was.
Pres. M.T. Steyn het die hoeksteen van Petrusburg se eerste NG kerk begin 1899 gelê. Die argitek was Walter Donaldson van Ficksburg.
2. Petrusburg se kerk kry ’n toring
Die NG Gemeente Petrusburg in die Wes-Vrystaat se kerkgebou is in 1899 voltooi. Alles was vir die ingebruikneming gereël toe die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) ’n week voor die inwydingsdatum uitbreek. Hoewel Britse troepe die kerkgebou as huisvesting gebruik en die Nagmaalservies in dié dae verdwyn het, het die gebou self feitlik onbeskadig gebly. Nadat die kerkgebou vervalle geraak het, is dit vernuwe en van ’n toring met moderne uurwerk voorsien en opnuut op 11 April 1942 ingewy. In 1965 is weer groot herstelwerk gedoen, maar in 1974 is besluit om die kerk af te breek en ’n nuwe te bou.
Ds. William Fullard is op Potchefstroom oorlede, maar begrawe in Kimberley, waar hy diep spore getrap het.
3. Kimberleyse dominee emeriteer ná 26 jaar in gemeente
Ds. William Fullard (1906–1988) se enigste gemeente was die NG Gemeente Kimberley (Newtonkerk) vandat hy in 1950 daar bevestig is tot hy sy emeritaat op 11 April 1976 aanvaar het. Dié boorling van Vrede in die Noord-Vrystaat het op verskeie plekke in die Vrystaat onderwys gegee nadat hy sy opleiding in 1930 voltooi het. Later was hy ’n lektor aan die Natalse Tegniese Kollege en deeltydse omroeper by die SAUK in Durban. Hy trou in 1935. In 1945 begin hy op 38 met sy teologiese opleiding op Stellenbosch, waar hy een van die eerste lede van die Kweekskoolkoor was. In Kimberley was hy betrokke by die stigting van die Hoërskool Adamantia en dien hy in verskeie skoolrade, die beheerraad van die Kimberley Kestell-Kinderhuis, Die Diamantveld-Utiliteitsmaatskappy vir Behuising en die stadsraad.
Altesaam 43 mense het omgekom in die Ellispark-sokkertragedie, een meer as elf jaar vantevore in die sokkerramp op Orkney in Noordwes. Foto: Citizen
4. Suid-Afrika se grootste sporttragedie eis 43 lewens
Tot 11 April 2001, toe 43 mense hul lewe verloor het in die Ellispark-sokkerramp, was die grootste sporttragedie in Suid-Afrika se geskiedenis die Oppenheimer-stadionramp in Orkney naby Klerksdorp op 13 Januarie 1991. Sowat 30 000 toeskouers is toegelaat in die stadion met plek vir 23 000 vir ’n vriendskaplike wedstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates, maar hulle is nie geskei volgens die span wat hulle ondersteun het nie. Nadat die skeidsregter ’n doel deur Chiefs toegeken het, het Pirates-ondersteuners beswaar gemaak en Chiefs-aanhangers met blikkies en vrugte gegooi. Na bewering is sommige Chiefs-ondersteuners met messe aangeval. Paniekbevange toeskouers het probeer vlug van die gevegte, maar talle is vertrap of doodgedruk teen die skarebeheerheinings. Altesaam 42 mense het gesterf.