Arts
5 dinge wat op 10 April in Sentraal-Suid-Afrika gebeur het─── MORNÉ VAN ROOYEN 09:51 Mon, 10 Apr 2023
Stap saam deur die geskiedenis van Sentraal-Suid-Afrika met vyf gebeure op hierdie dag in die verlede.
1. Operasangeres sterf aan kanker
Die gevierde Suid-Afrikaanse sopraan Marieta Napier is op 10 April 2004 in Kaapstad aan kanker oorlede. Nadat sy jare lank in Duitsland gesing het, het sy haar Suid-Afrikaanse debuut in 1976 in Kaapstad gemaak. Op 1 Augustus 1985 het sy die rol van Abigaille in Guiseppe Verdi se opera Nabucco vertolk vir die ingebruikneming van Bloemfontein se Sand du Plessis-teater, destyds die tuiste van die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (Sukovs).
Prof. Gerrit Dekker.
2. Groot letterkundige in Klerksdorp oorlede
Prof. Gerrit Dekker, wat van 1925 tot 1963 aan die PUK doseer het, is vandag 50 jaar gelede in Klerksdorp oorlede. Hy was 75 jaar oud. Prof. Dekker is in 1925 aangestel as dosent in Nederlands en Afrikaans aan die Potchefstroomse Universiteitskollege en in 1927 as senior lektor. Hy is in 1931 bevorder tot professor in Nederlandse en Afrikaanse Taal en Lettere. Hy is die enigste letterkundige vir wie die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein ’n kamer ingerig het waar van sy persoonlike besittings en memorabilia uitgestal word.
Bloemhof was in rep en roer vir die inwyding van die klipkerk van die NG Moedergemeente.
3. Bloemhof kry ’n klipkerk
Die NG Gemeente Bloemhof (nou in Noordwes) se pragtige klipkerk, ontwerp deur die argitek Gerard Moerdyk, wat ook die Voortrekkermonument ontwerp het, is op 10 April 1926 in gebruik geneem, toe die gemeente reeds 56 jaar oud was. Tydens die eerste jare is die eredienste in ’n klein en ondoeltreffende saal gehou. Vandag is dit ’n rustige dorp, maar in die beginjare was dit een die woeligste diamantdelwerye wat avonturiers, geluksoekers en swerwers hierheen gelok het en baie probleme vir die gemeente veroorsaak het.
Abongile Nonkontwana in aksie vir die Cheetahs. Foto: Gallo
4. Cheetahs-slot in Oos-Kaap gebore
Die voormalige Cheetahs-speler Abongile Nonkontwana is op 10 April 1995 in Port Elizabeth gebore. Hy is hoofsaaklik ’n slot, maar hy speel af en toe as ’n flank of agtsteman. In September 2020 het hy in Engeland ’n ooreenkoms onderteken om vir die klub Ealing Trailfinders in die RFU-kampioenskapsreeks te speel.
Adv. Jim en Lettie Fouché was albei boorlinge van die Suidoos-Vrystaat.
5. Vrystaatse boer word tweede staatspresident
Die ou Suid-Afrika se tweede staatspresident, adv. Jim Fouché, na wie die Bloemfonteinse hoërskool genoem is, was ’n boorling van Wepener wat suksesvol in die Suidoos-Vrystaat geboer het. Hy het in 1942 Volksraadslid vir Smithfield geword en is in 1954 as administrateur van die Vrystaat aangestel. Nadat Fouché ’n tyd lank minister was, is hy op 10 April 1968 as staatspresident ingehuldig. Sy vrou, Lettie, wat op Zastron grootgeword het, was lief vir sang en het dikwels op byeenkomste gesing. Sy het jare lank in verskeie besture van die Vroulandbou-unie in die Vrystaat gedien.