Agri Hour
Vereistes vir grondeienaars ten opsigte van veldbrande─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Mon, 04 Oct 2021
Erich Stoch, voorsitter van die Noordwes Sambreel-brandbeskermingsvereniging, deel vereistes wat grondeienaars moet aan voldoen wanneer dit kom by die bestryding en voorkoming van veldbrande.
Sien onderstaande PODCAST
Stoch deel dat volgens die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr. 101 van 1998 is dit ‘n vereiste vir alle staatinstellings om ‘n lid van ‘n brandbeskermingsvereniging te wees. Hy deel verder dat in terme van die Nasionale Grondwet het die res van die landsburgers die reg om te besluit om deel van ‘n brandbeskermingsvereniging te wees of nie. Maar, Stoch sê wat mense nie besef nie is dat, al word hulle nie ‘n lid van die bogenoemde vereniging nie, is die wet van toepassing op ‘n grondeienaar om seker te maak dat die volgende in plek is:
“Jy moet ‘n brandbaan of ‘n voorbrand hê. Dit beteken ‘n stuk grond op die grens van jou eiendom wat nie brandbare materiaal het nie. Met ander woorde, jy kan [die area] skraap, jy kan gif spuit of jy kan [die area] brand,” verduidelik Stoch.
Hy waarsku egter dat om gras korter te sny verwyder nie die brandbare materiaal soos in die geval van ‘n voorbrand nie.
“Jy moet die nodige toerusting hê om ‘n brand te kan bestry en te kan verhoed dat die brand oorgaan na jou buurman. Jy moet ook kan verhoed dat ‘n vuur wat van jou buurman kom, nie oor jou grond kan gaan na die volgende buurman in die lyn nie.
“Jy moet ook personeel hê wat opgelei is, en [moet in besit van] toepaslike beskermende klere en toerusting wees,” sê Stoch verder.
Hy raai grondeienaars aan, wat nie kan bekostig om die nodige brandbestrydingstoerusting te koop of lede geld te betaal nie, om hulle plaaslike brandbeskermingsvereniging te nader en dan te reël om sweet-ekwiteit of -kapitaal te belê. Dit beteken dat so ‘n grondeienaar bereid sal wees om te help met die bestryding van brande in sy gemeenskap en só sy ledegeld betaal.
“As jy nié aan enigeen van die voorafgenoemde [vereistes] voldoen nie, dan word jy beskou as nalatig. Dit is ‘n statutêre verpligting om dit te doen as jy in beheer, besit of op grond bly om seker te maak dat jy nie ‘n risiko veroorsaak vir jou bure of die aangrensende eiendomme nie,” sluit Stoch af.
OFM-nuus