Agri Hour
Volstruisboerdery: Jou plaas moet aan sekere vereistes voldoen─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 14 Jul 2021
Indien jy in droër dele van die land geleë is en oorweeg om 'n boerdery aan te pak, kan jy met volstruise begin boer.
Maar, jou plaas moet aan sekere vereistes voldoen.
Sien onderstaande PODCAST
Die vereistes waaraan die plaas moet voldoen, het ten doel om te verseker dat biosekuriteitstandaarde gehandhaaf word. Sekere infrastruktuur is ook noodsaaklik om met volstruise te boer.
Daar is ook streng reëls in plek wat insluit dat volstruise nie van een plek na ‘n ander geskuif kan word sonder dat hulle getoets word en ‘n negatiewe uitslag vir siektes het nie. Produsente moet ook die nodige permitte besit om hierdie voël te kan skuif.
“Ek dink alle dierebedrywe gaan daai rigting loop want die kliënt wat uiteindelik die produk koop, wil weet waarvandaan die produk kom, hoe is daar met dierewelsyn met hierdie produk gewerk, hoe is daar met volhoubaarheid van die omgewing gewerk met hierdie dier,” verduidelik Piet Kleyn, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Volstruis-besigheidskamer.
LEES: Getal volstruisprodusente neem af weens #droogte
Hy sê verbruikers raak al hoe meer gesofistikeerd en verwag van verskaffers om die bogenoemde vrae te kan beantwoord.
Maar, nog voordat ‘n voornemende boer met volstruise begin boer, moet hulle registreer as ‘n volstruisprodusent. Dit is ‘n verpligting.
Kleyn voeg by dat die produsent dan outomaties deel van die Suid-Afrikaanse Volstruis-besigheidskamer word en kry só al die permitte wat nodig is om volstruise te skuif of om slagtings te doen.
Voornemende boere moet met hulle plaaslike veeartse in kontak tree, wat dan sal help om die plaas te registreer.
Besoek die besigheid se webtuiste vir meer inligting.
OFM-nuus