Agri Hour
Publiek gewaarsku oor veldbrande─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 02 Jul 2021
Die publiek word gewaarsku om op hulle hoede te wees vir die verhoogde moontlikheid van veldbrande.
Johan Breytenbach van die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging, sê daar bestaan weer ‘n groter kans dat veldbrande hierdie naweek kan ontstaan.
Sien onderstaande PODCAST
Breytenbach deel dat daar teen Dinsdagmiddag 15:00, binne 'n tydperk van net 48 uur, ongeveer 89 veldbrande regoor die Vrystaat ontstaan het.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het verskillende waarskuwings uitgereik, terwyl die brandbeskermingsvereniging ook 'n aantal brandwaarskuwings op sosiale media-platforms gerig het. Geen berigte oor sterftes of ernstige beserings was teen Woensdag ontvang nie.
Inwoners word versoek om versigtig te wees wanneer ‘n brand ontstaan en Breytenbach sê grondeienaars het ‘n verpligting om as ‘n brand op hulle eiendom ontstaan, dit te blus.
“Hierdie brande brand geweldig intensief, hulle beweeg baie vinnig, en dis ‘n baie gevaarlike situasie om jouself in te bevind. So, persoonlike veiligheid is van absolute, kardinale belang.
“Moenie brande gaan blus as jy nie behoorlike, beskermende klere aan het nie. As jy nie ervaring het nie, moet nie in die brande gaan werk nie” waarsku Breytenbach.
Hy sê dit is beter om brande te voorkom as om dit te probeer bestry omdat die brande baie vinnig kan versprei.
OFM-nuus