On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Navorser praat oor plantsiektes in groentegewasse

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 27 Jan 2021

Navorser praat oor plantsiektes in groentegewasse | News Article
Foto: koppert.be

Baie nat grond kan lei tot, onder meer, plantwortelsiektes.

Dit is volgens Elsie Cruywagen, navorser by die Landbou Navorsingsraad, wat spesialiseer in swamsiektes op groentegewasse. 

OFM-nuus se Elsabé Richard het met haar oor plantsiektes gepraat en hoe dit behandel kan word…

Sien onderstaande PODCAST

Cruywagen verduidelik dat plantsiektes die abnormale groei of versteuring van normale prosesse in ‘n plant is.  Sy sê dit is nie noodwendig net die patogene (kieme) wat siektes in plante kan veroorsaak nie. Dit, aangesien omgewingsfaktore ook siektes kan veroorsaak.

Daar is ook nie-lewende, abiotiese faktore, wat hoë of lae temperature, sonbrand, hael, tekorte aan voedingstowwe en lugbesoedeling insluit wat plante nadelig kan beïnvloed. Daarmee saam voeg Cruywagen by dat wanneer boere te veel chemikaliëe spuit, dit ook plante kan beskadig.

Hoe nadelig is voortdurende reënval op groentegewasse?

“Dit hang af van die gewas en hoe oud dit is. Daar is baie verskillende faktore wat ‘n invloed kan hê. Baie nat grond lei baie keer tot wortelsiektes… Jou blaarsiektes kan dan ook bietjie meer uitkom omdat die blare die heeltyd nat is. Die swamme kry dit baie makliker reg [om die plant binne te dring] in klam toestande. Dit hang natuurlik af van jou temperature, want sekere swamme soek warmer weer en ander soek ‘n bietjie koeler weer.

“Droë weer, aan die ander kant, laat stres jou plante ook weer, dan kan jy ook weer ander siektes kry. Maar, in hierdie gevalle is daar baie keer swamme wat van hierdie lekker klam toestande hou,” verduidelik Cruywagen.

Sy raai boere aan om gereeld hulle gewasse te ondersoek om seker te maak dat daar nie simptome soos verwelking op die plante se blare is nie.

 “As jy verwelking sien, is dit baie keer van jou eerste simptome wat jy opmerk wanneer dit eintlik van die wortels af kom. So, teen die tyd wanneer die stam pap raak en hy is vrot, dan is dit eintlik te laat vir daai plant…”

Hoe kan boere hierdie plantsiektes behandel of voorkom?

“Die meeste van die boere het ‘n redelike intensiewe spuitprogram waarmee hulle die swamdoders en insekdoders [voorkomend] spuit, veral in hierdie tipe weer sal hulle hulle spuitprogramme so bietjie opskerp.

“Mense wat bietjie meer organies werk, gaan ander goed moet probeer. Die organiese boerderye is baie keer ook meer in tonnels. So dit maak dit makliker dan het die reën self nie so ‘n groot invloed nie. Die humiditeit en die lug kan natuurlik [‘n negatiewe invloed] hê,” voeg Cruywagen by.

Sy verduidelik dat bakterieë dieselfde effek het, veral as besmette water oor plante gespat word.

Cruywagen sê virusse, aan die ander kant, sal nie so volop wees nie omdat hulle deur insekte versprei word en as dit so nat is, is insekte skaars.

“Op elkeen van die gewasse is daar spesifieke middels geregistreer. Jy moet gaan kyk wat is geregistreer vir die beheer van daardie spesifieke siekte op daardie gewas.

“As jy gelukkig genoeg was om ‘n gewas te plant wat hulle geteel het om weerstand te hê teen ‘n spesifieke siekte, is jy natuurlik gelukkig… Die kanse dat jy dan gaan siekte kry, is laer. Dit is natuurlik ook een van die goed wat boere ook na kyk van die begin af - is daar kultivars wat dalk tolerant is teen die spesifieke siektes,” deel Cruywagen.

Sy sê daar is onder meer aartappels en tamaties wat baie meer tolerant is teen laatroes, wat veroorsaak word deur Phytophthora infestans. Cruywagen sê hierdie patogeen het in die 1800s die Ierse hongersnood veroorsaak wat daartoe gelei het dat miljoene mense van hongerte gesterf het.

Cruywagen sluit af deur te sê dat die mees algemene beheer swamdoders is. Sy sê egter dat boere swamdoders moet koop wat spesifiek geregistreer is vir daardie spesifieke siekte en dit op die voorgeskrewe tyd spuit om effektiewe resultate te kry.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.