Agri Hour
Agri-Noordwes trots op aktiewe landbouverenigings─── CHRISTAL-LIZE MULLER 07:11 Mon, 07 Sep 2020
Agri-Noordwes is 'n landbou-organisasie wat stewig gewortel is in 'n hele struktuur wat oor 'n lang tydperk opgebou en versterk is.
Die sukses van 'n organisasie, soos dié wat 'n affiliaat is van Agri SA, se krag lê in landbouverenigings. Agri-Noordwes se president, Willem De Chavonnes Vrugt, sê dit alles begin by landbouverenigings, waar gemeenskappe organiseer en bepaal wat van plaaslike belang is. Kwessies kan dan eers op grondvlak aangespreek word, terwyl onopgeloste kwessies dan op 'n hoër vlak aandag kan geniet. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
De Chavonnes Vrugt glo die sukses van 'n organisasie soos dié lê in die belang van hoe goed die landbouverenigings op grondvlak funksioneer. Agri-Noordwes is in dié verband van die bevoorregte organisiasies wat kan staatmaak op goed funksionerende landbouverenigings, wat die provinsiale organisasie versterk.
Brandpunte in Noordwes
Verskeie veiligheidskwessies is steeds op die voorgrond en probleme daar rondom het oor tyd toegeneem. Dit sluit verskeie kwessies in, soos die probleem ten opsigte van kriminele optrede deur booswigte. Hy sê daar is gebiede in dié provinsie waar onwettige grondbesettings voortduur. Dit behels betreding en beskadiging van eiendom in. Heinings op plase word afgebreek sodat daar onwettige beweidingspraktyke kan plaasvind. Dié probleem vind egter nie slegs plaas op private eiendom nie, maar ook op staatsgrond waarop daar nie geproduseer word nie. Daar is vir seker in sy mening 'n toename in besettings op onproduktiewe staatsgrond in Noordwes.
Nog 'n probleem rondom veiligheid is veediefstal. Dit sluit potslagtings in waar mense vee buit en slag omdat hulle honger is, maar dan is daar ook sindikate en georganiseerde groepe wat vragte vee steel.
Geweldsmisdaad wat aanvalle op plase en kleinhoewes insluit, is ook 'n veilighiedskwessie wat 'n werklikheid is. De Chavonnes Vrugt meen dit is nou 'n daaglikse gebeurtenis waaraan mense in afgeleë gebiede blootgestel is.
Daarmee saam meen hy dit is nie slegs 'n spesifieke groepering wat geteiken word nie, almal in landelike gebiede word hierdeur geraak. Dit is op dié gebied waar plaaslike landbouverenigings 'n belangrike rol speel en waar veiligheidstrukture goed georganiseerd is en vloei van inligting plaasvind. Skakeling met plaaslike polisiekantore is noodsaaklik en Agri Noordwes het ook goeie verhoudings met die plaaslike polisie. Optrede teen onwettige grondbesettings vind egter nie altyd onmiddellik plaas nie, want plaaslike polisiekantore het nie die vermoë om teen grondbesetters op te tree nie en in talle gevalle moet dit op provinsiale vlak aangespreek word.
OFM-nuus