Agri Hour
Grain Field Chickens het hard gewerk vir gesogte eerbewys─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Tue, 21 Jul 2020
Die gevestigde pluimvee-abbatoir, Grain Field Chickens (GFC), in Reitz in die Oos-Vrystaat het aan streng vereistes voldoen om die gesogte 20 Keys-internasionale eerbewys vir uitnemendheid te ontvang.
René van der Westhuizen, bedryfsingenieur by GFC, sê dié maatskappy is op talle vlakke geëvalueer en teen wêreldklas organisasies gemeet. Dit was om seker te maak GFC fokus daarop om aaneenlopende bedryfverbetering reg toe te pas. GFC is in 2010 gevorm onder leiding van VKB en met dié eerbewys is GFC nou die eerste hoender-abbatoir in die land wat dié eerbewys ontvang het. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het verder met Van der Westhuizen gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Sy sê die 20-sleutels internasionale eerbewys is deur die Japanse maatskappy PDI gevorm en Organisation Development International (ODI) is die Suid-Afrikaanse kontrakteur wat in 26 lande oor die wêreld heen dié sisteem by maatskappye in plek stel. Maatskappye kan registreer vir dié stelsel en ODI bied dan leiding ten opsigte van die betrokke sleutels wat in 'n maatskappy in plek gestel moet word. Volgens Van der Westhuizen gebeur dié proses om vir dié eerbewys te kwalifiseer, nie oornag nie. Dit verg baie geduld, harde werk en tyd.
Van der Westhuizen is die fasiliteerder van dié stelsel by GFC. Elk van die 20 sleutels het 'n leier gehad wat verantwoordelik is en moet toesien dat 'n betrokke sleutel in plek gestel word. Elk van dié sleutels is gedryf totdat die eindresultate behaal is.
Sy sê dié eerbewys is 'n eerste vir GFC en al die nywerhede van VKB implementeer dit, maar GFC is die eerste nywerheid wat aan al die vereistes voldoen om die eerbewys te kan ontvang. Van der Westhuizen sê dit is vir hulle as 'n span 'n groot mylpaal en in 'n kompeterende bedryf is dit waardevol om die enigste "hoender-abbattoir" in die land te wees wat die eerbewys ontvang het. Dit is vir GFC 'n voorreg om as 'n span saam te werk om nuwe hoogtes te bereik en trots te wees op wie GFC as 'n maatskappy is.
Van der Westhuizen sê ondanks dié eerbewys gaan dit onder omstandighede goed met die hoenderbedryf, omdat daar voortgegaan kon word met produksie tydens die strenger Covid-19-inperkingstydperk, omdat landbou as 'n noodsaaklike diens geklassifiseer is.
Dié inperkingstydperk het wel 'n impak gehad op GFC omdat kitskos-restaurante se deure toe was weens regulasies deur die regering. Dít het 'n impak gehad op die volume van produkte, terwyl die vraag na dié produkte afgeneem het, wat daartoe gelei het dat meer produkte op die bevrore mark beland het. Dít het weer 'n ooraanbod veroorsaak, terwyl mense minder vleis kan beskostig. Mense beweeg terug na stapelkos omdat dit bekostigbaar is. Sy sê GFC het ook bykomende koste aangegaan tydens die strenger inperkingstydperk in terme van die Covid-19-wetgewing, om regulasies na te kom en daaraan te voldoen.
OFM-nuus