Agri Hour
SA se verwagte sonneblom-oes is redelik goed─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Thu, 02 Jul 2020
Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vyfde produksieskatting vir somer-oliesaadgewasse sien nie dieselfde daarna uit nie.
Sonneblomsaad se skatting is onveranderd gelaat vanaf die vorige skatting, terwyl die sojaboonskatting afwaarts aangepas is. Die verwagte Suid-Afrikaanse grondbone-oes is ook laer aangepas. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan uitdagings tydens die aanplantings van dié gewasse in die onderskeie produksiegebiede. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Luan van der Walt, 'n landbou-ekonoom van Graan SA (GSA), gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Van der Walt sê die sonneblomoesskatting is op bykans 766 ton geskat en dit is 'n "redelike goeie skatting", ondanks verskeie uitdagings wat produsente in die gesig gestaar het.
Talle sonneblom-oeste is dié seisoen laat aangeplant en daar was aanvanklik kommer dat nie baie van dié aanplantings gaan plaasvind nie. Produsente het ook gesukkel met die swam Sclerotinia peul en stamvrot in hul gewasse.
Hy sê dié NOK se skatting is onder Suid-Afrika se gemiddelde sojaboon-opbrengste vir die afgelope vyf jaar, terwyl die jongste skatting 'n gemiddelde opbrengs van 1,53 ton per hektaar insluit, wat steeds 'n goeie gemiddelde verwagte sonneblomoes is, hoewel dit laer as vorige oeste is.
Die produksieskatting vir sojabone is afwaarts aangepas met sowat 2,3%. Die vorige skatting was op 1,290 miljoen ton en is nou 1,261 miljoen ton. Van der Walt sê dié afname is weens onsekerheid in terme van hoe lewerings geskied het. Dit kom neer op 'n gemiddelde opbrengs van minder as 1,8 ton per hektaar. Die tempo van die lewerings was aansienlik stadiger en die meeste van die sojaboon-oeste is reeds gestroop. In terme van sojaboonproduksie, waar Mpumalanga die grootste produksiegebied is, was daar ook uitdagings vir produsente in terme van laat reën wat daartoe bygedra het dat daar laat met aanplantings begin is. Dit het 'n groter negatiewe impak op die land se sojaboonoes gehad, waarvan dié impak ook groter was as op die produksie van mielies.
Die Suid-Afrikaanse grondbone-oes is met sowat 16,5% laer aangepas. Dit is 'n afname van 10,000 ton - van 62,000 ton tydens die vorige skatting na 52 000 ton in die jongste skatting.
Van der Walt meen dit is moeilik om 'n produksieskatting vir grondbone te doen, veral vroeg in die seisoen, omdat grondboonpeule onder die grond is. Daarom word 'n werklike siening oor die opbrengsverwagting bemoeilik. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) se werklike produsentlewerings vir Mei toon 'n afname. Dit is weens produsente wat, eers met die aanvang van die stroopproses van hul grondboon-oeste, gesien het die opbrengste is nie so goed soos wat verwag is nie. Van der Walt meen egter die jongste sojaboon-oesskatting is egter steeds aansienlik beter teenoor verlede jaar se oes waar minder as 20 000 ton gelewer is.
OFM-nuus