Agri Hour
Jagbedryf gee tree vorentoe ná opheffing van verbod─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Wed, 17 Jun 2020
Die Suid-Afrikaanse wildbedryf is dankbaar dat hulle 'n tree vorentoe kan neem danksy die verbod op die binnelandse jag van wild wat opgehef is.
Die jag van wild is in die vroeë inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie verbied, maar dit kan nou in vlak 3 weer geskied. Wiaan van der Linde, adjunkpresident van Wildbedryf SA, sê dié bedryf se inkomstestrome is sedert Maart vanjaar afgesny, maar binnelandse jagters wat wildsplase nou weer kan besoek, word met ope arms verwelkom. Hy sê daar word plaaslik na biltonjagters verwys en al kan trofeejagters van die buiteland nie soos in vorige jare na Suid-Afrika stroom om te kom jag nie, is die binnelandse jagmark groot met 'n omset van R8 miljard jaarliks. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Van der Linde gepraat, wat ook die eienaar van Wintershoek Safari's is...
Sien onderstaande PODCAST
Van der Linde sê daarom is die oopstel van binnelandse jag goeie nuus vir dié bedryf. Selfs wildvangers word nou positief geraak, omdat hulle kan begin om wild te verskuif. Boere kan nou weer geld verdien.
Volgens hom het die wildbedryf groot waardering vir verskeie organisasies wat 'n belangrike rol gespeel het om die bedryf tydens die nasionale inperking te ondersteun en wat behulpsaam was met onderhandelinge met die regering om die bedryf weer aan die gang te kry.
Daar kan nou met die nodige permit oor provinsies heen gereis word om te gaan jag. Dit is egter onderhewig aan sekere regulasies soos die beperking van slegs drie mense wat in 'n voertuig mag reis. Dié permitte is deur Wildbedryf SA aan sy lede gestuur, maar organisasies soos Saai, en Agri SA, het ook permitte beskikbaar waarin daar onder meer bevestig word - deur die eienaar van die grond waarna toe daar gereis word - dat daar op dié eiendom gejag gaan word. Dit is ook nodig vir wanneer jagters met 'n karkas terugkeer huis toe.
Van der Linde sê daar moet onthou word dat Suid-Afrikaanse jagters, bestaansjagters is. Hulle jag wild om die vleis huis toe te neem vir eie gebruik. Dit is juis hierom dat die regering toegegee het dat daar voortgegaan kan word om te jag. Wanneer jagters wildsplase besoek mag hulle ook luidens die vlak 3-inperkingsregulasies oorslaap.
Die wildbedryf is ook dankbaar vir Saai se Gaan Jag-veldtog, wat daarop gemik is om Suid-Afrikaners aan te moedig om dié seisoen te jag, nie slegs vir kosdoeleiendes nie, maar die hele uitstappie is soos "antibiotika vir die siel," sê hy.
Daarmee saam is die opheffing van die verbod 'n groot verligting vir landelike gemeenskappe, want jaguitstappies is 'n geldelike inspuiting vir gemeenskappe. Hy sê daar is groot opgewondenheid dat die waardeketting weer aan die gang is.
OFM-nuus