On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agri Hour

NWK, produsente pak kosnood in gemeenskappe aan

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 06:24 Wed, 10 Jun 2020

NWK, produsente pak kosnood in gemeenskappe aan | News Article

Honger mense is desperate mense.


Daarmee saam het Suid-Afrika al voor die aanvang van die Covid-19-inperkingsregulasies 'n sukkelende ekonomie gehad. Al hoe meer mense begin nou honger ly. Daarmee saam is die regering se inkomstebronne beperk. Die landboubesigheid, NWK se hoof uitvoerende beampte, Theo Rabe, sê die regering se hulpverleningspakkette is ook nie volhoubaar nie. Groot chaos kan verwag word as dié fontein opdroog. Hy sê NWK het daarom besluit om die Landboubesigheidskamer, Agbiz, en Graan SA (GSA) se Agri Waardeketting-verligtingsprojek te ondersteun. Dit behels graanskenkings deur produsente, wat dan na witmieliemeel verwerk word en onder gemeenskappe versprei word. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met hom gepraat ...


Sien onderstaande PODCAST


Rabe sê op 'n individuele vlak kan die nood in gemeenskappe geabsorbeer word, want daar is genoeg hulpverleningsorganisasie, maar wanneer massas mense begin honger ly, bring dit 'n ander situasie mee. Geweld kan uitbreek. Diefstal en plundering kan plaasvind uit desperaatheid. Daarom het NWK 'n verantwoordelikheid om dié toestande te verhoed sodat landelike gebiede se ekonomieë nie skade ly wanneer  massas mense begin optree nie. Daar moet verligting gebring word in gemeenskappe, dit is die NWK se sosiale verantwoordelikheid, sê hy. 

Die meeste dorpe in plattelandse gebiede is afhanklik van die landboubedryf.  Daar is wel ander nywerhede betrokke, maar die  landboubedryf en gemeenskappe is interafhanklik van mekaar. Dié voedingsprojek behels dat produsente enige graan skenk. Verkieslik 'n ton of meer, wat dan tot volhoubaarheid van die projek kan bydra. Daarmee saam kan enige ander vennote in die waardeketting ook geld of enige ander skenkings doen.

Hy sê alle graan, wat nie mielies is nie, gaan deur NWK ontvang en verkoop word om witmielies aan te koop. Botselo Mills in Delareyville is ook deel van dié projek en het onderneem om die mielies gratis te maal en te verpak. Dit sal dan  in 5kg en 10kg sakke deur die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) versprei word. NWK waarborg ook dat die hele proses goed gereguleer sal word om deursigtigheid te verseker.  Daar is op mieliemeel besluit, omdat dit 'n goedkoop bron van kos is en daarmee word daar gepoog om vir 'n langer tydperk meer volhoubaar aan gemeenskappe kos te verskaf.  NWK gaan ook R150 000 beskikbaar stel aan dié projek.

'n Spesiale verligtingsrekening is vir dié voedingsprojek geskep. Graanskenkings kan by NWK se silos gedoen word. Die graanafdeling se rekeningnommer is X980422WND. 

Vir meer inligting besoek NWK se webtuiste. 




Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.