On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

agri fokus

Genomiese teelwaardes vir Bonsmara

───   11:24 Wed, 28 Jun 2017

Genomiese teelwaardes vir Bonsmara | News Article

Die vrystelling van die heel eerste genomiese BLUP-teelwaardes vir vleisbeeste in Afrika laat Bonsmara-telers en hul kliënte wêreldwyd deel in die voordele van die nuutste telingstegnologie vir plaasvee.


Die Bonsmara-ras het die voortou geneem om genomiese seleksie in Afrika en selfs wêreldwyd vir die ras ’n werklikheid te maak toe SA Bonsmara se algemene jaarvergadering reeds in 2012 die besluit geneem het om in genomiese seleksie te belê. Hierdie belegging in die ras se toekoms is gemaak deur invloedryke teeldiere se genomiese profiele te bekom vir die vestiging van ’n verwysingspopulasie. Die aanvanklike belegging is gedoen met eie fondse en bydraes van telers in eie geledere. Stamboek se veekundiges het saam met die Bonsmara-raad hierdie leiding geneem om die projek te beplan en die wetenskap-beginsels na te volg wat nodig is om genomiese inligting deel te maak van teelwaarde-voorspellings.

Die Bonsmara-stelsel bied die ideale onderbou om genomiese seleksie toe te pas.

Bonsmara-telers volg ’n stelsel waar ekonomies belangrike eienskappe as normale roetine gemeet en aangeteken word. Dit is ’n voorvereiste vir suksesvolle teelwaarde-voorspellings, wat ook die insluiting van genomiese inligting behels. Die vestiging van ’n verwysingspopulasie is in versnelling geplaas toe die Beef Genomics Programme (BGP), gefinansier deur die Tegnologie Innoveringsagentskap (TIA), in April 2015 op die been gekom het.

As gevolg van die toewyding van die Bonsmara-telers om nougeset te meet en aan te teken, het die fokus van deelname aan die BGP hoofsaaklik gewentel om soveel as moontlik invloedryke diere toe te voeg tot die verwysingspopulasie. Daar is ook later gekonsentreer om die genomiese profiele van vroulike diere, wat groot impak in die ras het, te bekom. Die voordeel hiervan is dat belangrike ekonomiese eienskappe wat net op verse en koeie gemeet kan word, beter gekoppel kan word aan genomiese profiele. Die gekose koeie het dus reeds akkurate BLUP-voorspellings vir die betrokke eienskappe. Die eienskappe sluit ouderdom, eerste kalwing, kalfinterval en maternale invloede op geboorte- en speengewigte in.

As gevolg van die Bonsmara-telers se geesdriftige deelname aan sentrale en plaasgroeitoetse is daar ook betroubare inligting beskikbaar vir eienskappe soos voerinname en eienskappe wat deur RTU (intydse) skandering bekom word (onderhuidse vetdikte, oogspier-oppervlak en marmering). Om te verhoed dat kuddes of genetiese groepe diere lae verwantskappe met die genomiese inligting van die verwysingsgroep diere het, is alle telers aangemoedig om ook biologiese monsters (haarmonsters of semen) in te stuur van hulle gebruiksbulle sodat hulle ingesluit kan word as verwysingsdiere.

Terwyl die versameling van haarmonsters en semen van invloedryke diere plaasgevind het en die genomiese profiele bekom is, het die veekundiges by SA Stamboek voortgegaan met model- en stelsel-ontwikkeling, evaluasie van programmatuur en toetsing van uitslae waar genomiese inligting deel vorm van BLUP-teelwaardes. Gedurende die tydperk het die tegnologie ook in so ’n mate ontwikkel en beskikbaar geword wat dit moontlik gemaak het om oorweging te skenk om die sogenaamde “Enkel-stap” (Single Step) metodologie toe te pas. Hierdie metode hou meer voordele in en skakel regstreeks by roetine BLUP-evaluasies in. Effektief verkry elke dier ’n Genomiese Teelwaarde wat ’n aanpassing is vanaf die verwagte BLUP-teelwaarde vir elke dier se (ware) verwantskap met alle ander diere in die populasie.

In die gevalle waar die genomiese profiele van diere bekend is, word hierdie verwantskappe presies bepaal. Die belangrike voordeel is dus dat ’n genoomtoets op ’n jong dier duidelik aandui watter genekombinasie hy verkry het vanaf sy ouers. “Aard” hy meer na die ouerlyn met die beter teelwaarde of nie. Die akkuraatheid waarmee die voorspelling van die genetiese meriete van jong diere gedoen word, is dus hoër as die voorspelling waar genoom-inligting nie bekend is nie. Dit is veral van groot waarde waar eienskappe net op een van die twee geslagte gemeet (kan) word, soos die genetiese meriete van koeie om geboorte te gee aan kleiner kalwers of swaarder kalwers te speen, vroeg te kalf in die kalfseisoen as ’n vers en gereeld daarna te kalf soos gesien kan word in die teelwaardes vir kalwinggemak, melk, ouderdom eerste kalf en kalfinterval.

Eienskappe wat tradisioneel ook net op bulle gemeet word soos voerinname (en die doeltreffendheid om dit te benut) en eienskappe geassosieer met skandering, soos oogspier-oppervlak en marmering baat ook geweldig deur die insluiting van genoom-inligting in BLUP-teelwaarde-voorspellings.

Die Bonsmara Telersgenootskap en SA Stamboek is dus trots om aan te kondig dat die eerste Genomiese BLUP-teelwaardes vir die ras beskikbaar is vanaf 1 Julie 2017. Dit word ook voortaan deel van die gereelde roetine genetiese ontledings wat maandeliks uitgevoer word. Die diens stel telers in staat om voortaan jong diere genomies te toets en sodoende die akkuraatheid van die BLUP-teelwaardes vir dié diere te verhoog. Dit verminder die risiko by besluitneming om teeldiere te selekteer wat in die toekoms impak sal maak in kuddes. Veral jong bulle is dus uitstekende kandidate om in die toekoms genomies te toets voordat hulle oorweeg word as kuddevaders, en veral as KI-kandidate.

Diere waarvoor genotipes ingesluit word in BLUP-ontledings sal voortaan gemerk word met die “GenoTyped”-embleem. Soektogte op www.SABeefBulls.com kan ook gedoen word op die beskikbaarheid van genotipe, al dan nie, van elke Bonsmaradier in die ras.


Bron: SA Stamboek


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.