Yellow Door
Laat waai met die Klere─── KARIEN JORDAAN 13:46 Wed, 29 Feb 2012

Hoekom is dit dat klere soms ondraaglik is? Karien Jordaan wens sy het geweet.
Ná die onlangse Australiese Ope-finaal het ek begin wonder oor die behoefte van so baie mense om per geleentheid hul klere te laat waai. Novak Djokovic het, ná ‘n meedoënlose ses-uur-marathon teen Rafael Nadal, op die grond neergeval en kon nie gou genoeg van sy hemp ontslae raak nie. Nie dat dit my of enigiemand van wie ek weet nou juis ontstig het nie... Ek het net begin wonder hoekom hy/hulle/mense dit doen.
Foto: Ryan Pierse/AP
Is dit ‘n oer-instink om jou liggaamsbedekking te stroop wanneer emosies jou oorweldig? Sokkerspelers doen dit amper roetineweg ná oorwinnings. Tennissterre soos Andy Roddick, David Ferrer, Fernando Verdasco en selfs die brandmaer Roger Federer is ook dikwels kaalbolyf op foto’s te sien. In dié geval is dit waarskynlik gewoonlik om hul beeld te poets en/of aanhangers gelukkig te hou, maar Novak het sy hemp op dié betrokke Sondag uitgepluk soos ‘n Ahab van die Bybel. Spontaan, met rou emosie, en asof hy daaroor geen beheer het nie.
Daar is duidelik verskillende redes waarom mense hul klere laat waai. So is daar kaalnaelers, nudiste, modelle. En in elke geval kan die aksie deur die “laatwaaier” geregverdig word. Party mense slaap sonder klere en ander verbeel hulle hulle het geen klere aan nie. Soos die Keiser.
In my eerstejaar op universiteit is ons hele koshuis na ‘n strandpartytjie by Noordhoek. Dit het later donker geword en ‘n groot vuur het gesellig in die middel van al die jolyt gebrand. Die volgende oomblik begin ‘n paar van die mans om en om die vuur dans – vooroorgeboë soos krygers. En nie lank nie of die een kledingstuk na die ander begin waai. Hulle was gou poedelnakend en die kring van kaal dansers het vinnig aangegroei. Dié gedrag was vir my so vreemd dat die aand my tot vandag toe bybly. Alkohol stroop ons mos van ons inhibisies.
My ma en pa vertel ook graag hoe hulle as jong getroudes saam met hul beste vriende gaan skinny-dip het. Hoekom, het ek vroeër dikwels gewonder – hulle het mos baaibroeke gehad… In My Week with Marilyn gaan swem die skone Michelle Williams ook in haar evas-gewaad. Naaktheid dra hier beslis grootliks by tot die teerheid van die toneel.
Maar dan bly my vraag – hoekom voel dit soms net so REG om te stroop.
Daar is ook heelwat glanspersone wat vir ‘n bepaalde “saak” klere sal uittrek. Soos vir kankerbewusmaking of PETA se doelstellings. En ander drukgroepe wat weet dat hulle op dié manier die aandag van die media sal kry en dus gehoor sal word.
Maar voor jy dink ek waardeer nie die liggaam in al sy fasette nie - dit was vir my ‘n blye dag toe Novak vir Vogue sy beste bates gewys het.
Ek wonder maar net steeds oor daai Sondagaand in Melbourne…