National
ANC eis verskoning van koerant─── 07:12 Wed, 11 Sep 2013
Johannesburg -Die ANC het Dinsdag gesê die Mail & Guardian moet sy storie onttrek oor Baleka Mbete, ANC-voorsitter, wat na bewering deur Gold Fields omgekoop is en haar en die party om verskoning vra.
“In hul gretigheid om die nasionale voorsitter en die ANC te diskrediteer, het die koerant ’n swak, ongegronde storie gepubliseer,” het die regerende party in ’n verklaring gesê.
“Die Mail & Guardian gebruik opsetlik die opskrif [‘Gold Fields bribed ANC Chair’] met die bedoel om sensasioneel, lasterlik en beledigend te wees.”
Stefaans Brummer, een van die joernaliste wat die storie geskryf het, het die ANC-verklaring as “heeltemal oordrewe” beskryf.
“Ons staan by ons storie, wat duidelik in die openbare belang was.”
’n New Yorkse regsfirma het bevind dat ’n aandeletoekenning van R25 miljoen aan Mbete neerkom op omkopery. Die koerant het berig dat Gold Fields dié bevinding onder die mat gevee het.
Die regsfirma, wat deur Gold Fields aangestel is, het bevind dat Mbete se aandeel in ’n omstrede bemagtigingstransaksie in 2010 vergroot is ná ’n beweerde dreigement deur haar verteenwoordiger.
Sapa