Nadine Blom, die geliefde sangeres, motiveringspreker en die brein agter die Supercool vir Jesus-handelsmerk, het op 1 April 2024 agter die mikrofoon op Die Klank van Jou Lewe ingeskuif as deel van die ontbytprogram, Good Morning Breakfast, elke weeksoggend van 06:00 tot 09:00, sowel as die Nuut in Afrikaans, elke Sondagaand van 19:00 tot 20:00.
Blom het reeds haar loopbaan as omroeper by BOK Radio in Kaapstad geslyp en het onlangs die weeksoggendprogram van 11:00 tot 13:00 aangebied.
Blom het haar meestersgraad in Internasionale Reg aan die Universiteit van Johannesburg voltooi en is ’n ywerige kampvegter vir menseregte. Sy lewer gereeld landswye toesprake oor kuberveiligheid en die gevare wat sosiale media inhou.
Sy het twee Sama-toekennings (South African Music Awards), ’n Ghoema-toekenning, ’n Bokkie-toekenning, drie Afri-Indie-toekennings en ’n Flam Toekenning verwerf vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en goue status verwerf met etlike uitreikings.
Gedurende 2003 debuteer Nadine by die KKNK met haar volwasse debuutproduksie en CD, “Veer”. Duette is een van Nadine se passies en deel sy met die jare die verhoog met stemme soos Andre Schwartz, Jannie Moolman, Rina Hugo, die Afro Tenors en Sibongile Ngoma. Nadine identifiseer gedurende 2008 ’n behoefte aan “Afrikaanse tween-popmusiek” vir kinders en stel sy ’n DVD en CD getiteld Supercool vry in 2009.
Haar 2023 enkelsnit Nuwe Liefde (geskryf deur Hunter Kennedy, Janie Bay en haarself) kondig haar 20-jaar-viering in die musiekbedryf aan. Nuwe Liefde is bekendgestel tydens Oktober 2023 en toer sy dwaroor Suid-Afrika om haar 20-jaar-herdenking in die musiekbedryf saam met haar aanhangers te vier.