On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

South Africa

Beweerde verkiesingsbedrog: MK Party onttrek eers aansoek teen OVK

───   08:20 Thu, 04 Jul 2024

Beweerde verkiesingsbedrog: MK Party onttrek eers aansoek teen OVK | News Article
Voormalige president Jacob Zuma op ’n MKP-verkiesingsplakaat. Foto: X

“Die MK Party het versuim om geloofwaardige of toelaatbare bewyse te bied om sy aantygings van stembedrog te ondersteun.”

Die uMkhonto we Sizwe Party het sy aansoek teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) by die Kieshof teruggetrek.

Die party het die hof gevra om die 2024-verkiesingsuitslae ongeldig te verklaar omdat daar na bewering stembedrog was.

Die party se besluit om die saak terug te trek kom net ’n week nadat die OVK die hof versoek het om die party se aansoek van die hand te wys. Die OVK het verklaar dat die MK Party versuim het om geloofwaardige of toelaatbare bewyse te bied om sy aantygings van stembedrog te ondersteun.

Boonop het die party nie aan Artikel 55 van die Kieswet voldoen nie, wat vereis dat appèlle teen verkiesingsuitslae binne drie dae ná hul verklaring ingedien moet word.

Die party het twee weke later sy appèl ingedien sonder om redes vir die vertraging te verskaf. Die party het beweer dat meer as 9,3 miljoen stemme nie verantwoord is nie.

Die OVK het dit egter teengestaan en gesê dat die MK Party verkiesingsdata en -uitslae wanvoorgestel het. Die kommissie het die hof gevra om die aansoek van die hand te wys en ’n kostebevel aangevra.

Die Kieshof het intussen ook twee MKP-lede tot ’n boete van R150 000 elk gevonnis vir die oortreding van artikel 81 & 82 van die Kieswet deur geweld en oproer voor die verkiesing aan te hits. Visvin Reddy en Bonginkosi Khanyile se boetes is vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.