On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Beheerde vloedbestuur noodsaaklik te midde van buitengewone reënval

───   ELZETTE BOUCHER 07:33 Tue, 29 Apr 2025

Beheerde vloedbestuur noodsaaklik te midde van buitengewone reënval  | News Article
Die Vaaldam met 14 sluise in 2010 oop gehad. Foto: Michael Gundelfinger/Wikipedia

Ondanks die onlangse kritiek rondom die hantering van vloedwater by die Bloemhof- en Vaaldamme, beklemtoon Roelie van Reenen van die Beefmaster Groep dat beheerde waterbestuur noodsaaklik is om groter skade te voorkom.

In ’n onderhoud met OFM Agri verduidelik Van Reenen vloedlyne is reeds jare gelede vasgestel om vloedrisiko’s te bestuur en dat daar altyd ’n mate van risiko bestaan wanneer infrastruktuur naby watermassas opgerig word.

“Ons moet besef daar is risiko’s verbonde aan infrastruktuur in vloedgebiede. Selfs al voorspel ons weerpatrone so goed as moontlik, kan menslike faktore en onverwagte neerslae nie altyd voorkom word nie.”

Volgens hom sou niemand in Januarie of Februarie – toe damvlakke laag was – aanbeveel het om water vooraf vry te laat nie. “As jy destyds gesê het laat sak die damvlak, sou mense gesê het: Wag, die vlakke is reeds te laag. Maar toe kom die laat reën, en skielik sit ons met oorvol damme.”

Van Reenen noem sou Bloemhofdam voor die reën tot nul kapasiteit verlaag gewees het, dit moontlik sou bygedra het om die huidige vloede te hanteer. “Maar selfs dan sou daar steeds vloedskade gewees het – die volume water was net te groot.”

Hy onderstreep damme se primêre funksie is watersekerheid, en nie primêr vloedbeheer nie. “Damme help om vloede te bestuur, maar hulle is daar om water ná die reënseisoen te bêre – vir menslike gebruik en landbou.”

Van Reenen verduidelik verder beide die Vaal- en Oranjerivierstelsels moet noukeurig bestuur word om te verhoed dat vloedwater gelyktydig by Douglas saamvloei, wat verwoestende gevolge kan hê. “Beheerde vloede is baie beter as onbeheerde vloede, en daarom is die huidige bestuurstrategieë noodsaaklik, al is dit nie altyd gewild nie.”

Tanya Aucamp het hierdie video op haar Facebook-profiel geplaas van die Vaal/Oranja samevloei by Douglas op 28 April 2025. Video: Tanya Aucamp

Met betrekking tot produsente en besighede wat geraak word, sê Van Reenen mobiliteit is die enigste werklike oplossing. “Infrastruktuur soos pompstasies moet mobiel wees – as jy langs ’n rivier werk, moet jy kan ontruim. Vloede gaan gebeur – of dit een keer in tien jaar of drie keer in vyf jaar is.”

Hy waarsku egter gemeenskappe en besighede langs riviere ly groot ekonomiese verliese wanneer vloede gebeur. “Ons het self al ondervind hoe oeste geraak word wanneer pompstasies onder water is. Hierdie riviere is lewensare vir landbou, gemeenskappe, toerisme en plaaslike ekonomieë.”

Oor die vraag of die huidige waterbestuur verbeter kan word, sê Van Reenen eerlik dat daar min alternatiewe is. “Behalwe dat mense wat erg geaffekteer word beter moet voorberei, is daar nie veel meer wat gedoen kan word nie. Ons kan nie die natuur keer nie.”

OFM Agri cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.