Agriculture
NAMPO Oesdag 2025 op koers ondanks swaar reën─── 17:02 Sat, 26 Apr 2025

Ten spyte van uitdagende weerstoestande, het Graan SA en die NAMPO-bestuurspan bevestig dat die 2025 NAMPO Oesdag steeds soos beplan van 13 tot 16 Mei by NAMPO Park sal voortgaan.
Ná weke van swaar reënval in Bothaville en omliggende gebiede, het die terrein wel versuipings getoon, maar die terugkeer van helder weer oor die afgelope twee dae het ’n groot verskil gemaak. Droë toestande verbeter daagliks, en voorbereidings is in volle swang om besoekers en uitstallers 'n wêreldklas-ervaring te bied.
Volgens Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO, is die span gereed om uitdagings die hoof te bied: “Ons het die situasie noukeurig gemonitor en het reeds aksie geneem om die impak van die reën te bestuur. Met die terugkeer van sonnige weer vorder die voorbereidings goed, en alles is op koers vir NAMPO 2025 om die wêreldklas-skou wat ons besoekers en uitstallers verwag, te lewer.”
Langtermynbeleggings in infrastruktuur soos opgegradeerde dreineringstelsels en parkeerareas speel ’n kritieke rol om die terrein besoekersvriendelik en funksioneel te hou, selfs onder moeilike omstandighede.
Toegang na die park tydens die verspoelings. Foto: NAMPO.
Padtoegang: Belangrike kennisgewing
SANRAL het bevestig dat die R30-pad tussen Bothaville en Orkney tans gesluit is weens ernstige watervloei-skade. Beperkte toegang word aan NAMPO-verkeer vanaf Orkney se noordekant toegestaan. Uitstallers en kontrakteurs word versoek om by padversperrings duidelik aan te dui dat hulle NAMPO Park se kant toe reis.
“Ons bly in noue kontak met SANRAL en verkeersowerhede om gereelde opdaterings aan alle betrokkenes te kan verskaf,” sê Strydom. “Binne NAMPO Park self is die terrein besig om goed uit te droog en verdere dreineringsmaatreëls word geïmplementeer om die voorbereiding te bespoedig.”
NAMPO bestuur vra dat besoekers en uitstallers Graan SA se platforms volg vir die nuutste riglyne oor roetes en toegang.
Fokus op besoekerservaring
Die 2025-program beloof om alles te bied wat NAMPO Oesdag ’n hoeksteen van die landboukalender maak – van uitstallings van grootskaalse toerusting en internasionale tegnologie, tot kundige gesprekke en netwerkgeleenthede. Organiseerders beklemtoon dat die veiligheid en ervaring van besoekers en uitstallers hul hoogste prioriteit bly.
Besoekers word aangemoedig om hul kaartjies vooraf aanlyn aan te skaf via www.opentickets.co.za om lang toue te vermy, en op hoogte te bly van opdaterings via Graan SA se amptelike platforms.
Graanprodusente onder druk
Terwyl voorbereidings vir NAMPO 2025 goed vorder, het Graan SA ook sy kommer uitgespreek oor die breër impak van die oormatige reënval op graanprodusente landwyd. Nat toestande vertraag oestydperke en verhoog die risiko van gewasskade en logistieke uitdagings.
“Terwyl ons daarna uitsien om die landbougemeenskap by NAMPO Park te verwelkom, bly ons bewus van die uitdagings wat baie produsente tans op hul plase ervaar. Die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse produsente skyn steeds deur, en NAMPO bly 'n platform wat daardie gees vier,” sê Strydom.
NAMPO 2025 beloof dus om nie net 'n viering van landbou-innovasie te wees nie, maar ook ’n getuienis van die sektor se veerkragtigheid in die aangesig van uitdagende omstandighede.
Vir opdaterings en meer inligting, besoek www.nampo.co.za of volg Graan SA op sosiale media.