Agriculture
Vrystaat Landbou hoop begrotingsrede lewer nie ‘wit olifante’ op─── ROBYN SCHUTTE 12:04 Tue, 18 Mar 2025

Vrystaat Landbou verwag ’n begrotingsrede wat fokus op infrastruktuurontwikkeling en doeltreffende finansiële hervormings.
Die Vrystaatse LUR vir finansies lewer Dinsdagmiddag (18/3) sy 2025/26-begrotingsrede in Bloemfontein.
Vrystaat Landbou verwag werklike maatreëls vir ekonomiese groei en infrastruktuurverbetering, soos die herstel van provinsiale paaie.
Die organisasie sal besteding aan uitgebreide openbarewerkeprogramme en witolifantprojekte as strategiese misleidings verwerp, en hoop dat die klem op kontraktering van betroubare diensverskaffers geplaas sal word, sê dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, aan OFM Agri.
Strategie vir landelike veiligheid
“Ons doen ’n oproep vir daadwerklike verandering. Die verwagtinge is van ’n begrotingsrede wat nie net ’n populistiese manier is om stemme te werf nie, maar ’n strategie wat landelike veiligheid bevorder in ’n tyd van toename in mielie- en veediefstal,” sê Armour.
Herhalende begrotingskrisisse in staatsdepartemente wat lei tot finansiële tekortkominge vir infrastruktuurprojekte en personeel, beklemtoon die dringende behoefte aan nuwe finansiële beplanning, voeg Armour by.
As dit nie aandag kry nie, kan dit ontaard in ’n struikelblok vir volhoubare ontwikkeling van spesifiek die provinsie landbousektor, maar ook die provinsie in geheel.
‘Ons moet meer doen met minder’
In haar begrotingsrede begin Augustus het Elzabé Rockman, LUR vir landbou, gesê minder bedryfskapitaal is aan haar departement toegewys. Dit kon toegeskryf word aan die breër finansiële en fiskale posisie van die land en die invloed van stadige ekonomiese groei.
“Ons moet werk met wat ons het en meer doen met minder. Ons herprioritiseer ons besteding en kyk na die impak wat ons maak en die doeltreffendheid van ons beheeromgewing.”
Boere voel invloed van klimaatsverandering eerste
Rockman het die belangrike rol van die landbousektor in die omgewing beklemtoon en daarop gewys dat boere die eerste is wat die invloed van klimaatsverandering voel. Daar is ’n groter behoefte aan gevorderde opleiding om die arbeidsmag toe te rus om die kompleksiteit van moderne landboumasjinerie te hanteer.
Sy het spesifiek verwys na die behoefte om Glen-kollege se landboukurrikulum te moderniseer en die gehalte te verbeter van opleiding wat aangebied word. Die kollege word beskou as ’n belangrike instelling vir landbou-onderrig in die Vrystaat.
OFM Agri