Agriculture
Mening: Van voëls, vere, damme en ganse─── ELZETTE BOUCHER 06:00 Tue, 18 Mar 2025

Tydens die onlangse Graan SA-kongres kon deelnemers hulself op ’n meer poëtiese wyse uitdruk en sodoende stof tot nadenke bied, veral teen die agtergrond van politieke spanning wat ongetwyfeld in ekonomiese realiteite vir produsente sal manifesteer.
Te midde van die oorverdowende meningsverskille in die media oor beleid, wetgewing en geopolitieke spanning tussen Suid-Afrika en die VSA, het Jaco Breytenbach, ’n leierboer van Fouriesburg en voorsitter van die SA Graan-tydskrif se redaksiespan, ’n boodskap van eensgesindheid aan die landbougemeenskap oorgedra tydens die kongres op NAMPO Park buite Bothaville.
“Jy weet, ons is voëls – die landbouers van Suid-Afrika. Ons is voëls van eenderse vere ... of ganse,” het Breytenbach gesê voordat hy dié bekende Boerneef-gedig voorgedra het:
“Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê.”
“Hierdie is ’n liefdesgedig van Boerneef. Ek dra dit op aan die landbouers van Suid-Afrika. Ek wil praat oor die veer wat laat val is. Voel ons ’n veer daarvoor? Nee, ons voel nie ’n veer daarvoor nie. Is die veer dood? As die veer dood is, sal ons die nodige respek betoon en dit tot rus laat kom.
‘Die voël met die vere maak ons veerkragtig’
“Het die veer asiel gaan soek op ’n ander krans? Het die veer afgestig, of wil hy afstig? Ek smeek julle: die vere maak nie die voël nie, maar die voël met die vere maak ons veerkragtig. Ons kan doen wat ons moet in landbou in Suid-Afrika.
“Ons almal – al die vere – sorg dat die berggans in die lug bly. Dit maak ons veerkragtig. Ons het elke veer nodig.”
Dr. Tobias Doyer, hoof-uitvoerende beampte van Graan SA, het in sy slottoespraak terugverwys na Breytenbach se boodskap. Die lekker ding van landbou is dat ’n mens altyd iets nuuts leer. Jaco het vandag gepraat oor die berggans. Dis wonderlik om te sien watter rol almal speel.
‘Selfs die donsveertjies is belangrik’
“Hierdie is ’n groot span wat saamwerk – van die ouens wat genetika ontwikkel tot by die meulenaars. Almal dra by tot hierdie groot berggans wat in die lug bly. En dis ’n treffende analogie.
“Sommige ouens is vliegvere wat ons bo hou, ander is stuurstertvere wat ons in die regte rigting help stuur, en dan is daar vere wat ons aërodinamies en vinnig maak. Selfs die donsveertjies is belangrik – hulle hou ons warm wanneer ons hoog vlieg en gee ons drukkies wanneer ons dit nodig het.
“Daar is natuurlik ook ’n les daarin: die stertvere, die stuurders – onthou net, julle is baie naby aan die agterstewe,” het hy met ’n glimlag geskerts.
Vernietigende uitwerking van fopnuus
“Ná die kongres verdaag en deelnemers huiswaarts keer, weerklink die boodskap steeds. Die beeld van die berggans en sy vere herinner ons ook aan die ganse van ander damme – dié met wie ons bande het en aan wie ons verskuldig is om seker te maak die boodskap word reg oorgedra.”
Doyer het ook gewaarsku oor fopnuus en die vernietigende uitwerking wat dit op die landboubedryf kan hê – om nie eens te praat van die tyd en hulpbronne wat vermors word terwyl aandag van werklike dringende kwessies afgetrek word nie.
“Dit is noodsaaklik dat mense buite die landbougemeenskap, wat dalk nie al die uitdagings verstaan nie maar steeds ’n rol in die groter ekosisteem speel – of hulle nou kritici, bondgenote of toeskouers is – voortdurend by die gesprekke betrek word. Hul teenwoordigheid kan ons aanmoedig om ons vlugpatroon aan te pas, sterker saam te staan en steeds vorentoe te beweeg, met die wete dat ons altyd verder vlieg wanneer ons saamspan.”
OFM Agri mvh