On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Noord-Kaapse boere glimlag breed oor rosyntjieoes

───   13:49 Fri, 08 Mar 2024

Noord-Kaapse boere glimlag breed oor rosyntjieoes | News Article
Foto: Raisins South Africa

“Vanjaar se oesskatting is tans op 83 000 t; ons kan moontlik selfs 90 000 t haal.”

Terwyl ongunstige weerstoestande rosyntjieoeste elders ter wêreld striem, glimlag die boere langs die Oranjerivier breed oor hul goeie oes wat besig is om onder die Nood-Kaapse son droog te bak.

Die teleurstellende oes van 2023 het die boere taamlik bekaf gelaat. “In 2023 het ons 63 000 t rosyntjies gehaal,” sê Gabriel Viljoen, voorsitter van die Oranjerivier-produsente-alliansie (Orpa) en eienaar van die Raaswater-landgoed buite Upington.

Gabriel Viljoen, voorsitter van Orpa. Foto: LinkedIn

“Vanjaar se skatting is tans op 83 000 t, ons kan moontlik selfs 90 000 t haal. Ons het so tussen 55% en 60% reeds geoes en behoort binne die volgende ses tot agt weke klaar te wees.”

Viljoen sê weens klimaatsverandering is die rosyntjieoes in Turkye, een van die grootste rosyntjieverskaffers in die wêreld, tot 40% laer as ’n jaar gelede. Oormatige reën wat in Kalifornië geval het, het ook daar tot ’n kleiner rosyntjieoes gelei.

‘Turkye se rosyntjieoes 40% laer’

“Die weer tel in ons guns. Ons het geen reën die afgelope tyd gehad nie, wat jammer is vir ons boere wat met beeste boer maar tot ons voordeel is.”

Hy sê die bedryf ervaar steeds logistieke uitdagings. “Ten minste kan die produk vir ’n ruk staan, wat anders is as die geval met vars uitvoervrugte.”

Ná vanjaar se besige druiwe- en rosyntjieoes sien hy en sy span daarna uit om bietjie asem te skep. “April maak ek die plaas toe,” sê hy.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.