Agriculture
Die lewe van ’n Vrystaatse boer: Bitter was nog nooit soet nie─── 15:12 Wed, 24 Jan 2024
“Hoe staan ’n boer elke dag op? Dis dan ramp op ramp… Wat wag vandag? Daar is weer oorlog, ’n oorlog teen elemente wat onuitwisbaar is.”
Die geleentheid om ’n geweer te hanteer, het reeds van kindsbeen af sy kop uitgesteek. Die oop velde was hulle speelplek en die wild was volop, al moes hulle soms met ’n springhaas en knopkierie tevrede wees.
Om wild te jag was deel van elke boer. Of dit nou was om ’n stukkie biltong te hê om te kerf en of dit was om die rooikatte en jakkalse se tjanke af te trap. Daar steek vir seker waarheid in die gesegde: “Buig die boompie terwyl hy jonk is,” want danksy die mag van die voorbeeld het boerseuns, en in sommige gevalle boerdogters, van kleintyd af leer jag en skiet.
Sedert die vroeë dae van die Groot Trek in 1835 is boere voortdurend deur oorloë geteister. Die eerste stryd tussen die Matabeles en die Voortrekkers in 1836 was g’n grap nie. Hulle het die boere in die Noord-Vrystaat kom aanval. Daar was geen einde aan die boere se veglus nie, en in 1837 het hulle hierdie volk verslaan. Die Matabeles met hulle spiese het spore gemaak in die rigting van die Limpoporivier.
Die militêre begraafplaas by Springfontein. Foto: Serijke Grobler
Die Anglo-Boereoorlog was egter ’n ander storie, ’n tragiese storie. Dis die een hoofstuk wat ons wil vergeet, maar tog ook wil onthou…
Dit is die jaar 1902. ’n Moeë boer staan langs sy perd, geweer in die hand en trotse voete in die droë sand; hy het oorleef. Dit is vroeg in die dag. Die son steek liggies sy kop oor Tafelkop uit.
‘Mismoedigheid, eensaamheid en hartseer oorheers sy emosies’
Die boer staan en staar uitdrukkingloos en verstaan nie: Moet lig nie lewe bring nie? Mismoedigheid, eensaamheid en hartseer oorheers sy emosies. Waarheen kan hy gaan en wat het van sy kompas geword?
O ja, die oorlog het dit vertrap. Rigtingloos en sonder huis, want die kakies en hulle vlamme van boosheid het alles verswelg. Hy wil nie eens dink aan die lyding wat sy vee moes verduur nadat die glimmende lem om hulle nek gevou het nie.
Sy vrou en kinders loop êrens in die stof van die bruin wind van ’n konsentrasiekamp tussen die klipgrafte van die vermoordes.
Hy het twee jaar in die Anglo-Boereoorlog geveg. Hy het tot die bittereinde vir vryheid, volk en vaderland geveg. Maar, die kakies het die oorlog gewen. Alles was tevergeefs. Engeland het beheer oor Suid-Afrika geneem. Die boer val op sy knieë, buig sy hoof, bid tot God en kyk weer op.
‘Sy hande is deurgewerk, maar kos moet hy kos op die tafel sit’
Dit is 2023, vyf geslagte later op Tafelkop in die Suid-Vrystaat, 121 jaar ná die Anglo-Boereoorlog en 188 jaar ná die begin van die Groot Trek.
Die jong boerseun is gewillig om te boer, want boer is in sy bloed. Sy dag begin nog voor die son sy kop oor die vlaktes uitsteek. Daar is diere wat voer moet kry. Sy hande is deurgewerk, maar kos moet hy kos op die tafel sit, nie net vir sy gesin nie, maar ook vir elke Suid-Afrikaner.
Sy oupa en pa het hom geleer om elke dag sorgvuldig en fyn te beplan. Hy begin deur na die sekuriteitskameras te kyk, net om seker te maak dat dit veilig is om veld toe te gaan. Plaasaanvalle vier hoogty – bloed sypel daagliks in die vrugbare grond van die Suid-Vrystaat.
Die Witkruismonument in Polokwane, Suid-Afrika, waar naasbestaandes kruise plant vir slagoffers van plaasaanvalle. Foto verskaf
Beurtkrag het die nuwe normaal geword – kyk eers gou na sy app om te sien wanneer die laksman veronderstel is om die tou van donkerte te trek, sodat hy kan beplan wanneer die ruvoer vir sy diere gemaal kan word.
Hy maak doodseker dat al die voertuie vol brandstof is en gereed staan om hulle skof te werk. Hy kan onthou hoe sy pa ’n duisend-liter-dieseldrom vir ongeveer R1 500 volgemaak het. Ai, waar is die dae? Vandag se ekonomie veroorsaak dat hy nou ’n belaglike R23 000 moet opdok.
Die paaie dorp toe is 30 jaar gelede gereeld geskraap en hulle bakkies het lank gehou. Vandag is die paaie verspoel en vol slaggate – ’n onbegaanbare, onbruikbare stuk gebuigde sinkplaat.
Sy pa en oupa het tien werkers en hulle gesinne op die plaas gehad. Nou is daar net twee gesinne wat die werk van tien mense moet doen. Die nuwe Arbeidswet wat hoër lone vereis, het veroorsaak dat duisende plaaswerkers die werkloosheidsdemoon in die oë moes staar. Nog werkloosheid, nog armoede, nog lyding…
Nadat hy alles sorgvuldig beplan het, kom ’n plaaswerker en gee hom die nuus dat tien skape in die kamp langs die hoofpad gesteel is. Gaan die mense met die lang vingers se vingers dan nou nooit weer korter word nie?
Smoorkwaad, bitter en met sy 9 mm-pistool klim die boer in sy bakkie om ondersoek in te stel.
Laatmiddag steek die suidweste wind op. Die dag was lank en die boer is moeg en moedeloos ná die groot verlies van die skape. Skielik “piep” die tweerigtingradio. Dit voorspel niks goed nie: Brandstigting op die buurman se plaas; die vlamme laat niks in hulle pad staan nie en beur voort.
Die vlamme versprei in die rigting van hulle nuwe teiken, Tafelkop. Verwoed ry die boer om sy vuurspuit te gaan haal en te red wat te redde is. Dis vieruur die oggend. Sy longe brand van die versmorende rook; hy is asvaal en swart van die roet, net soos sy stukkende hart.
Hoe staan ’n boer elke dag op? Dis dan ramp op ramp… Wat wag vandag? Daar is weer oorlog, ’n oorlog teen elemente wat onuitwisbaar is. Plaasmoorde gebeur elke dag. Veediefstal is ook op die daaglikse inkopielys van bendes en skelms. Brandstofpryse is onbekostigbaar. Veldbrande en brandstigting word as wapen gebruik om die boere van hulle plase af weg te dryf.
Die Boere het in die die Anglo-Boereoorlog geveg, maar vandag veg hulle nie teen die Engelse nie; hulle veg om hulle plase te behou. Hulle staan elke oggend op, want hulle moet – daar is ’n gesin om te versorg. Hulle sê om die uur skietgebedjies op en wys nie vrees nie.
Vandag was darem ’n dag van genade. Teen skemer maak hy die agterdeur oop. Sy gesin sit om die tafel en speel kaart. Hulle groet hom met glimlaggende gesigte. Sy vrou gee vir hom ’n vinnige piksoen op die wang. “Kom ons eet; ons het net vir jou gewag!”
Die lewe van ’n boer is voorwaar bittersoet.
OFM Nuus/Serijke Grobler cg/mc