On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Veediefstal in Vrystaat ál wreder

───   ELSABÉ RICHARD 16:00 Thu, 02 Nov 2023

Veediefstal in Vrystaat ál wreder | News Article
Foto deur Pixabay via Pexels.

“Veediefstal is nie net meer uitsluitlik ’n eiendomsmisdaad nie; dit het ontaard in ’n geweldsmisdaad deur georganiseerde groeperings en sindikate.”

Vir die meeste Suid-Afrikaners beteken hierdie tyd van die jaar vakansietyd is om die draai namate die Kerstyd nader kom. Maar vir baie produsente beteken dit hulle moet hul sekuriteit op die plaas hersien en versterk omdat veediefstal en plaasaanvalle begin toeneem.

‘ ’n Toenemende tendens is die wrede manier waarop diere geslag word’

Plattelandse gemeenskappe en hul plaaslike polisie is egter op hul hoede en het al verskeie misdadigers op heterdaad betrap. 

Veediefstal is ’n ekonomiese misdaad wat boerderygemeenskappe nadelig beïnvloed, sê dr. Jane Buys, veiligheids-en-riskikoanalis by Vrystaat Landbou. “Veediefstal is nie net meer uitsluitlik ’n eiendomsmisdaad nie; dit het ontaard in ’n geweldsmisdaad deur georganiseerde groeperings en sindikate.”

Sy sê booswigte skroom nie om geweld toe te pas wanneer hulle gekonfronteer word of in konfliksituasies geplaas word nie. Dit is nie ’n goeie toneel vir enige boer om op af te kom nie. Dit beeld uit die wrede en brutale wyse van hoe hierdie misdadigers te werk gaan wat by veediefstal betrokke is.

Buys moedig boere aan om betrokke te raak by hul plaaslike veiligheidstrukture en deel te neem aan gesamentlike operasies van die polisie.

Intussen sê Charl Saunderson, ’n dorperteler in die distrik Kenhardt in die Noord-Kaap, die probleem wat eers opgelos moet word, is dat inhegtenisnemings op vonnisse moet uitloop. Boere gaan reeds gebuk onder hoë insetkoste, stygende brandstofpryse en droogte; veediefstal vererger die situasie.

Saunderson sê kommersiële boere maak van kameras en ander tegnologie gebruik om te help om veediefstal te bekamp, maar nie alle boere kan hierdie veiligheidsmaatreëls bekostig nie. 

Hy hoop misdadigers word suksesvol vervolg en kry gepaste vonnisse, want in ander lande word sulke  misdade nie geduld nie. ”In 'n land soos Zimbabwe is die minimum straf vir veediefstal – of dit 'n hoender, ‘n skaap of vark of ’n bees is – nege jaar.”

OFM Nuus/Elsabé Richard-May Daphné, Morné





@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.