On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Geen Dankfees op Merweville sonder ruim boereharte

───   MORNÉ VAN ROOYEN 12:39 Sun, 12 Mar 2023

Geen Dankfees op Merweville sonder ruim boereharte | News Article

Die Karoodorpie Merweville skud weer sy vere reg vir die plaaslike NG gemeente se jaarlikse Dankfees, maar sonder die boeregemeenskap sou dié lewensbelangrike geldinsameling onmoontlik gewees het.

“Ons is ’n klein gemeentetjie en ons lidmaattal is nou maar ongeveer so by ’n honderd,” vertel Merweville se NG predikant, ds. Herman Burger, “maar hier is baie groot werk wat gedoen moet word.”

Die Dankfees, wat vanjaar van Vrydag 28 tot Sondag 30 April gehou word, is veral ’n vleisfees. “So die produkte wat ons verkoop, is hoofsaaklik skenkings wat ons van ons boerderygemeenskap kry.

Die Dankfees is veral 'n vleisfees en lidmate van die plase in die gemeente dra ruim by, ook van hul kundigheid in vleisverwerking. Foto: Facebook/Leon le Roux

“ ’n Mens staan verstom, ná ’n droogte van agt jaar, hoedat ons boere steeds hulle kant bring om die gemeente in stand te help hou,” sê Burger.

“Dan is hulle natuurlik ook die sterk en kundige manne en vroue wat ons help met die geweldige groot werk om al die vleis te verwerk. Ons kan regtig nie sonder die boeregemeenskap hierdie taak volvoer nie.”

Die Saterdagoggend word 'n basaar gehou as deel van die Dankfees. Foto: Facebook/Leon le Roux

Van die aktiwiteite waarna besoekers vanjaar kan uitsien, is Vrydag se braaivleisete en kuieraand vanaf sesuur, ’n pretstap en -fietsry die Saterdagoggend om seweuur en die basaar vanaf halfnege, gevolg deur ’n veeveiling, terwyl die orrelis Stefan Steyn die Sondagoggend om elfuur ’n orreluitvoering in die enorme kerkgebou sal aanbied.

Vir Burger is die dankdiens Sondagoggend om tienuur egter die hoogtepunt van die naweek lange fees. “Die eerste, voor die hand liggende rede, is dan is die grootste deel van die fees al verby en kan ’n mens al ’n bietjie ontspan,” skerts hy.

Ds. Herman Burger sien veral uit na die dankdiens Sondagoggend. Foto: Facebook/Leon le Roux

“Maar die tweede rede is natuurlik om ’n heerlike vol kerkgebou te hê; al hierdie mense wat ingekom het vir die verrigtinge van die naweek wat daar bymekaarkom en ons het ’n heerlike erediens saam. Dit is so fantasties, die samesang, die saamwees …”

Hy sien ook uit na die drie dag lange samekoms van al die mense “hier op ons ou dorpie. Dit is vir ons iets besonders elke jaar met die Dankfees.”

Die Dankfees is ook 'n kuierfees met volop geleentheid vir gesellige samesyn. Foto: Facebook

“Baie families, wat hulle oorsprong op Merweville het, is nog lojaal aan die dorp, die kerk en die Dankfees,” vertel Burger, “en kom jaar ná jaar terug om deel te hê daaraan.”

Hy sê besoekers gaan tuis in elke denkbare plek. “Verlede jaar was daar op die pastoriewerf sewe gesinne wat in woonwaens en tente kampeer het, benewens dié wat in die pastorie gebly het. Maar so gaan dit in elke huis.

Een maal per jaar wemel die kleine Merweville van die mense, van wie baie vroeër hier gewoon het of hier op skool was. Foto: Facebook/Leon le Roux

“Op die dorp en ook op plase word mense gehuisves. Ons het nie baie huisvesting nie, maar oral word mense ingestop. En dit is heerlik: hierdie samekoms van die groot klomp mense.”

Derdens, en miskien die belangrikste hoogtepunt vir Burger, is dat dit elke jaar vir die gemeente ’n openbaring is om te sien hoe die Here hulle seën.

Die vol kerk tydens die dankdiens op die laaste dag van die fees is vir ds. Herman Burger jaarliks 'n hoogtepunt. Foto: Facebook

“Ons is min, ons het ’n klein gemeentetjie geraak, baie van ons mense is oud. Maar as ’n mens die Dankfees afgehandel het en jy kyk terug en jy sien hoe die Here ons geseën het, dan kan ons net sê: Dit is ongelooflik!”

Hy vertel die gemeente is in 1904 gestig en van die vroegste jare is daar ’n soort dankfees gehou. “Dit het met verloop van jare ál groter geword, tot dit hier in die tagtiger- en negentigerjare tot ’n redelike groot fees ontwikkel en amper uit sy nate begin bars het.”

Die Dankfees se hoofdoel is om geld in te samel sodat die gemeente sy verpligtinge kan nakom. “Ons het ’n pragtige kerkgebou en ander fasiliteite wat ons in stand moet hou. Natuurlik het ons ’n leraarspos, wat ons moet finansier,” vertel Burger.

Merweville is 'n stil, netjiese dorpie sowat 40 km suid van die Noord-Kaap se grens en 100 km suidwes van Beaufort-Wes. Foto: Morné van Rooyen

Maar die gemeente is dankbaar hulle kan ook uitreik na buite. “Ons is betrokke by sekere sendingprojekte, ons lewer jaarliks ’n bydrae tot die outehuise op die omringende dorpe (Merweville het nie self een nie), en dan finansier ons om die helfte ’n lekeprediker vir die VGK in die bruin gemeenskap.”

Burger vertel Merweville is ’n stil, netjiese dorpie met die wonderlikste ou huise. “Dis ’n pragtige plekkie, maar hier gaan nie veel aan nie. As ’n besoeker op ’n weekdag tussen twaalf en twee hier inry, sal dit moontlik lyk of hier niemand lewe nie, asof hulle gevlug het en hulle huise net so gelos het, want jy sien geen lewe op straat nie. So gaan dit maar normaalweg.”

Die NG Gemeente Merweville, wat volgende jaar 120 jaar oud is, kan net sy verpligtinge nakom danksy die opbrengs van die Dankfees. Foto: Morné van Rooyen

“Maar ’n paar dae voor die Dankfees begin die motors al in te kom, en kort voor lank is elke huis en erf vol mense en begin ’n feestelike atmosfeer te heers. Jaarliks oor die feesnaweek word baie familie- en selfs klasreünies gehou.

“Dit is die een naweek in die jaar dat ons Hartenbos (’n gewilde vakansiedorp aan die Kaapse Suidkus) in die Karoo kan ervaar, sonder die see,” vertel Burger. “Dis ’n besonderse naweek.”

Hy nooi almal wat belangstel hartlik uit om by hulle aan te sluit, as daar nog iewers ’n verblyfplekkie is, “maar ons geniet dit om mense van oor die land hier te hê vir ons jaarlikse Dankfees”.

OFM-nuus/Morné van Rooyen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.