Agriculture
Bethlehem-skool bied nou volle landboupakket met nuwe vak─── 05:00 Tue, 20 Sep 2022
'n Hoërskool in Bethlehem, Vrystaat, het 'n nuwe kurrikulum geïmplementeer ná ‘n besluit om die volle Agri-vakpakket aan te bied, wat Landbouwetenskap en Landboutegnologie insluit.
Sien onderstaande PODCAST
Hoërskool Witteberg is tans een van net twee skole in die provinsie wat die volle vakpakket aanbied.
Volgens Gustav Dreyer van Hoërskool Witteberg het hulle reeds in 2017 Landbouwetenskap as vak ingefaseer en in Januarie vanjaar amptelik begin met sy splinternuwe vakpakket: Landboutegnologie.
Witteberg Agri het dan ontstaan om hierdie hele departement te verteenwoordig. Witteberg Agri se vakpakket is daarop gemik om 'n platform te bied om leerders voor te berei vir 'n naskoolse kwalifikasie in landbou, aangesien die landbousektor in Suid-Afrika nie 'n sektor is wat sal uitsterf nie.
“Almal in die land is afhanklik van die landbousektor. So, wat is beter as om ‘n kind reeds voor te berei vir dit wat gaan voorlê,” voeg Dreyer by.
Tans is Landbouwetenskap en Landboutegnologie by Witteberg slegs beskikbaar vir graad 10-12 leerders. Dreyer sê die skool wag nog vir goedkeuring van die Departement van Onderwys om die vak volgende jaar aan graad agts en neges beskikbaar te stel.
Die vakpakket word tans vir Gr. 10 – 12 leerders aangebied, maar vanaf 2023 sal Graad 8 – 9 leerders ook moontlik Landboustudies as opsionele vak kan neem.
Tans het die skool 'n nuut-opgerigte landboulaboratorium met agt volledig gemeubileerde stasies wat leerders in staat stel om op 'n meer praktiese vlak by die vak betrokke te raak. Dreyer het verder aan OFM-nuus gesê die vraag na die vak is relatief groot. Daarom will hulle hul reeds bestaande landbousentrum in die skool uitbrei sodat meer studente die vakke kan neem. Witteberg sal eersdaags die amptelike opening van die laboratorium vier.
“Dit is regtig opwindend om te weet ons kan hierdie vakpakket vir ons leerders aanbied en dat dit ‘n voorreg is vir ons om een van twee skole te wees wat hierdie pakket aanbied,” sê Dreyer.