Agriculture
Landbounuus-podcast: Koue weer vir Vrystaat voorspel─── ELSABÉ RICHARD 13:48 Fri, 16 Sep 2022
Baie koue weerstoestande sal weer Sondag na Sentraal Suid-Afrika terugkeer, ná 'n paar dae van lekker warm weer.
Daar bestaan ook 'n moontlikheid dat die Oos- en Suid-Vrystaat reënval van tussen 10 tot 20 mm kan ervaar. Johan van den Berg, 'n onafhanklike landbouweerkundige, het met OFM-nuus gedeel dat die moontlikheid van reën in Bloemfontein ook bestaan.
Volstruisproduksie in Suid-Afrika is tans onder druk. Dit is te midde van verwagtinge dat produksie in die huidige seisoen met tussen 7,5% en 10% sal toeneem. Volgens Francois de Wet, besturende direkteur van Kaap Karoo Internasionaal, het produksie van 162 000 geslagte voëls in die 2021-seisoen tot 127 000 in die 2021/22-seisoen gedaal. Die daling word aan die droogte in die volstruisproduksiestreke en hoë insektkostes toegeskryf.
Die Departement van Landbou in die Noord-Kaap gaan voort met sy veldtog in gemeenskappe vir die inenting van troeteldiere teen hondsdolheid. Veeartsenydienste het die afgelope week meer as 200 honde in Ganspan naby Jankempdorp teen hondsdolheid ingeënt. Die inentingsveldtog is deel van die Provinsiale Regering se poging om veeartsenykundige dienste na gemeenskappe te neem. Hondsdolheid is ’n soönotiese siekte wat van diere na mense oorgedra kan word. Die siekte tas die brein aan en veroorsaak sterftes by mense én diere. Mense kry gewoonlik hondsdolheid as hulle gebyt word deur 'n hond of 'n kat wat die siekte het.
EN
Duisende besoekers het die afgelope dae NAMPO Kaap in Bredasdorp in die Wes-Kaap bygewoon. Dié geleentheid het Woensdag 6 500 besoekers gehad en Donderdag het 9 500 besoekers die NAMPO Kaap-gronde betree. Toit Wessels, die assistent-bestuurder van NAMPO, sê hulle is opgewonde en dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van die publiek ontvang het. Wessels deel van die hoogtepunte by NAMPO Kaap. NAMPO Kaap eindig Saterdagmiddag 17 September.
OFM-nuus