Agriculture
Landbounuus-podcast: Sprinkaanswerms in Noord-Kaap is geweldig dig─── ELSABÉ RICHARD 14:26 Fri, 25 Feb 2022
Die konsentrasie van sprinkaanswerms is geweldig dig, met swerms wat tot 4 000 hektaar in die Prieska-omgewing in die Noord-Kaap dek.
Die president van Agri Noord-Kaap, Nichol Jansen, sê indien die konsentrasie van rooibaadjie sprinkane wat tans in die Noord-Kaap gesien word, nie behoorlik bestry word nie, gaan die land die grootste swerm vlieënde sprinkane sien wat tot nou toe in Suid-Afrika voorgekom het. Jansen sê opgeleide spanne sukkel met 'n tekort aan bestrydingstoerusting, wat sake vergemoeilik omdat die saaigebiede wat die Noord-Kaap, Vrystaat en aangrensende Oos-Kaap insluit, deur die swerms bedreig kan word indien hulle nie voor die vlieërstadium bestry word nie. Jansen sê dit kan in hierdie stadium 10 tot 14 dae neem vir die voetgangers om te begin vlieg.
Vyftig skape in die Brandfort-omgewing in die Vrystaat is danksy die doeltreffende optrede van die polisie teruggevind. Die waarde van die skape - wat 48 Dorper-ooie en twee ramme insluit - beloop R155 000. Die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) sê die vinnige rapportering van die saak het daartoe gelei dat veediefstal-speurders en 'n spoorhond, die spore vir 30 kilometer gevolg het. Hulle het die skape by die munisipale weikamp naby die dorpsarea in digte bosse versteek gevind, waar ? tydelike kraal opgerig was.
EN
Agri SA is bekommerd dat die besluit van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), om Eskom se versoek van 'n 9,61%-verhoging in die elektrisiteitstarief goed te keur, nog meer druk op die landbousektor sal plaas. Die nuwe tarief tree op 1 April 2022 in werking. Dié besluit kom net 'n dag ná die begrotingsrede waarin Minister van Finansies, Enoch Godongwana, ’n verhoging in ’n verskeidenheid belastings en aksyns aangekondig het. Agri SA sê kumulatief kan hierdie verhogings net die vermoë van die sektor belemmer om van die gevolge van die Covid-19 pandemie die afgelope twee jaar te herstel.
OFM-nuus