On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

National

Bejaarde man in Potch-woonbuurt dood ná gru-aanval

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:43 Fri, 01 Dec 2017

Bejaarde man in Potch-woonbuurt dood ná gru-aanval   | News Article

'n Bejaarde man is vanoggend dood en sy vrou ernstig beseer nadat hulle wreed in hul huis in Potchefstroom deur drie mans aangerand is.


Polisiewoordvoerder, Kelebogile Moleko, sê bure van die egpaar het 'n polisiebeampte wat op pad werk toe was, vroeg vanoggend in die straat voorgekeer en oor die voorval ingelig.

Dié polisiebeampte het bystand ontbied. Sy sê met die polisie se aankoms op die toneel was die bebloede man, vermoedelik in sy sewentigs, reeds dood. Hy het buite in die tuin by hul huis in Louwstraat in die woonbuurt Miederpark gelê, terwyl sy 69-jarige vrou bewusteloos in die huis gekry is. Sy was in 'n kritieke toestand en is na 'n plaaslike hospitaal gehaas.

Moleko kan in die stadium nie sê hoe die aanvallers toegang tot die egpaar se huis verkry het nie, maar het bevestig dat die egpaar in hul huis oorrompel is en dat hulle herhaaldelik met skerp voorwerpe op die kop geslaan is.

Die aanvallers het die beseerde vrou in die huis gelos en haar bebloede man uit die huis na buite gesleep waar hulle hom verder aangerand het. Hy is op die toneel dood verklaar.

Volgens Moleko het die aanvallers met die egpaar se dubbelkajuit Isuzu-bakkie weggejaag. Die bakkie is 'n ent verder gevind nadat dit omgeslaan het.  Gemeenskapslede kon daarin slaag om een van die aanvallers aan te keer en hy is later aan die polisie oorhandig. Sy makkers het weggekom. 

Die 28-jarige verdagte is deur die polisie in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord verskyn. Die ander twee aanvallers is steeds soek.

Dit is onduidelik wat die motief vir die aanval was en of daar iets uit die huis vermis word.

Die slagoffers se name gaan vir eers nie bekend gemaak word nie totdat hul naasbestaandes in kennis gestel is.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.