On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Local News

Motsoaledi belê vergadering nadat USAID-besnoeiings MIV-klinieke tref

───   15:01 Wed, 29 Jan 2025

Motsoaledi belê vergadering nadat USAID-besnoeiings MIV-klinieke tref | News Article
Aaron Motsoaledi. Foto: GCIS

Die befondsingskrane vir die stryd teen MIV/vigs in twee gesondheidsdistrikte in die Vrystaat en drie in Noordwes is toegedraai nadat die VSA buitelandse geldelike bystand tydelik opgeskort het.

Pres. Donald Trump het volgens AP dié bystand vir 90 dae opgeskort om die nuwe administrasie se beleid wat Amerika eerste stel, te hersien.

Die besluit het reeds gelei tot die sluiting van sommige klinieke wat afhanklik is van die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting (Pepfar).

’n Opvolgskrywe deur die Amerikaanse departement van buitelandse sake is uitgereik ná noodlenigingsorganisasies dringend hulp versoek het. Marco Rubio, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het aanvanklik slegs noodvoedselprogramme en militêre hulp aan Israel en Egipte van die opskorting vrygeskeld.

Hy het egter Dinsdag (28/1) ingestem om ten minste tydelik steeds geld te bestee aan humanitêre programme wat lewensbelangrike medisyne, mediese dienste, kos en skuiling verskaf.

Die Suid-Afrikaanse regering moet nog amptelike kommunikasie van Washington ontvang oor die toekoms van Pepfar, wat 17% bydra tot Suid-Afrika se R44,4 miljard-begroting vir die bekamping van MIV/vigs, het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, op ’n ANC-inligtingsessie gesê. Hy sal met Enoch Godongwana, minister van finansies, vergader om die uitwerking van die VSA se besluit te bespreek.

“Die wêreld is verstom deur hierdie aankondiging. Reeds langer as 20 jaar beveg ons MIV/vIGS, tering en malaria as ’n wêreldgemeenskap wat swaar op internasionale finansiering staat maak.  

“In Suid-Afrika voer ons die wêreld se grootste MIV-beradings-en-toetsveldtog, en sowat 5,5 miljoen mense kry antiretrovirale behandeling. Geen ander land kan enigsins hierby kers vashou nie.

“Die (orige 83% van die finansiering) kom hoofsaaklik van ons eie fiskus en bykomende befondsers soos die Global Fund,” het Motsoaledi gesê.  

Hy het verduidelik dat Pepfar programme in 27 van Suid-Afrika se 52 distrikte befonds. “Dit is die distrikte wat kwaaiste deurloop, insluitend vyf in die Oos-Kaap, twee in die Vrystaat, vier in Gauteng, en sewe in KwaZulu-Natal, die provinsie met die hoogste MIV-voorkoms.

“Ander distrikte sluit in twee in Limpopo, drie in Mpumalanga, drie in Noordwes, en die Kaapse metro in die Wes-Kaap. Ons beoordeel steeds die volle uitwerking van hierdie situasie en stel data saam om die omvang te bepaal van die uitdaging waarmee ons te kampe het.

Vergelding gevrees

“Ons werk daaraan om alle nodige inligting in te win en sal ons standpunt finaliseer ná samesprekings met die tesourie. Vir eers is dit die jongste opdatering oor die situasie,” het Motsoaledi gesê.

Afsprake word gekanselleer en pasiënte word van klinieke weggewys, volgens mense met kennis van die situasie wat vergelding vrees het as hulle openlik praat. Baie mense met MIV se behandeling kan summier onderbreek word.

Die meeste Amerikaanse federale amptenare is ook onder streng bevele om nie met eksterne vennote te kommunikeer nie, wat lei tot verwarring en angs, volgens verskeie mense met kennis van die situasie. Amptenare is ook aangesê om op te hou om tegniese bystand aan nasionale ministeries van gesondheid te verskaf.

“Die vennote met wie ons saamwerk, is in skok. Hulle weet nie wat om te doen nie, want hul lewensreddende missie en toewyding is daarmee heen,” het Asia Russell, uitvoerende direkteur van die voorspraakgroep Health Gap, gesê.

Laat Sondagaand, volgens ’n e-pos wat deur The New York Times gesien is, is werknemers van die Centre for Disease Control and Prevention opdrag gegee om summier op te hou om met personeel by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) te kommunikeer.

Hulle is later aangesê om nie eens in dieselfde vertrek – werklik of virtueel – as WGO-beamptes te wees nie en ook nie deel te neem aan e-posgesprekke waarin WGO-personeellede betrokke is nie.

Die VSA is die wêreld se grootste verskaffer van noodleniging en ’n wêreldleier in MIV-voorkoming en -behandeling. In die 2023-boekjaar het die VSA net minder as $70 miljard aan ontwikkelingshulp bestee, die meeste daarvan deur die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAID). Die VSA hersien en herevalueer egter nou sy buitelandse hulpprogramme.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.