Local News
PODCASTS, VIDEO, FOTO'S: Mense keelvol vir plaasmoorde, geweld - #BlackMonday #SupportOurFarmers─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:24 Mon, 30 Oct 2017
Honderde boere, inwoners van Vrystaatste dorpe en ander belanghebbendes neem saam met baie Suid-Afrikaners oor die land heen deel aan optogte en byeenkomste teen plaasmoorde.
Steun vir Swart Maandag van sover as Amerika en Nieu-Seeland word ook op Twitter gedeel. In Bloemfontein is daar baie mense, in swart geklee, wat in bakkies, motors en selfs trekkers op die N1 aan die vreedsame en goed georganiseerde optog deelneem. Talle wit kruise is op motors sigbaar, terwyl ander groot kruise agterop hul bakkies vashou. OFM-nuus het vanoggend op die Jagersfonteinpad, waar mense bymekaar gekom het, by optoggangers uitgevind waarom hulle dit bywoon. Sandile van Staden van Bloemfontein, wat in die landboubedryf werksaam is, sê hy ondersteun die inisiatief want moorde raak nie slegs boere nie, maar gemeenskappe as geheel.
Neels Leyding (foto) van Bloemdal sê Suid-Afrikaners is nou keelvol vir plaasmoorde.
Boet Bitzer, 'n afgetrede boer glo byeenkomste, soos dié kan 'n verskil maak, terwyl Estelle Weich (links op foto), 'n boervrou, sê hulle het al die pad van Boshof in die Vrystaat gery om aan die optog te kom deelneem.
Die optoggangers sal weer nou enige oomblik by die vertrekpunt oorkant die vulstasie by die Windmill-casino bymekaarkom om 'n griefskrif aan die polisie te oorhandig.
OFM-nuus se Christal-Lize Muller het vroeër berig dat terwyl verkeer in dele van Gauteng en die Wes-Kaap tot 'n stilstand gekom het, en Kaapstadse betogers gewaarsku word om nie die Stem te sing of Apartheids-vlae te waai nie, is die optog op die N1 buite Bloemfontein teen plaasmoorde in volle swang. Honderde voertuie neem deel aan die inisiatief, en alles is in hierdie stadium ordelik en vreedsaam.
Die R59 in Vereeniging is onder meer ook versper deur mense wat aan die landwye betoging deelneem.
Bloemfontein se N8/Haldonweg-brug oor N1 (Foto: Josca Human):
Video: DIrk Kok
OFM-nuus