On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Local News

Valke keer Zastron-amptenare aan weens korrupsie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:11 Tue, 23 May 2017

Valke keer Zastron-amptenare aan weens korrupsie | News Article

Bloemfontein - Twee amptenare van die Departement van Binnelandse Sake op Zastron het gister vlugtig in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van korrupsie verskyn.


Die Valke se woordvoerder in die Vrystaat, S'fiso Nyakane, sê Simon Ndebele en Ezekiel Mokhachane het na bewering omkoopgeld van twee Pakistanse burgers geëis om hul paspoorte en dokumente met betrekking tot hul asiel aan hulle terug te gee nadat die verdagtes dit afgeneem het.

Volgens hom het die 34-jarige Ndebele en die 47-jarige Mokhachane verlede Maandag op ‘n roetine-besoek, wat deel vorm van hul pligte, die buitelanders by hul winkel besoek. Hulle wou glo die mans, albei van Pakistan, se paspoorte en asiel-verwante dokumente sien waarna hulle dit glo met fors afgeneem het. Hulle het R4000 geëis voordat hulle dié dokumente weer aan die mans sou teruggee.

Nyakane sê die buitelanders het die voorval by die Valke aangemeld. Daar is toe ‘n lokval vir die amptenare gestel.

Die verdagtes is Vrydag by hul kantoor op Zastron in hegtenis geneem. Hulle was in besit van die omkoopgeld wat in die lokval deur die slagoffers betaal is.

Ndebele en Mokhachane bly in aanhouding en hulle sal na verwagting Woensdag in die landdroshof op Zastron aansoek om borgtog doen.

Intussen doen die Valke se woordvoerder in die Noord-Kaap, Philani Nkwalase, opnuut ‘n beroep op mense om owerhede te nader oor ongerymdhede of bedrog in staatsdepartemente, asook in die polisie. Dit kom nadat 'n immigrasiebeampte van die Departement van Binnelandse Sake in Kimberley ook verlede week in hegtenis geneem is nadat hy na bewering R4 500 van 'n buitelander geëis het in ruil vir die suksesvolle uitreiking van 'n Suid-Afrikaanse werkspermit.

Nkwalase sê mense kan uit desperaatheid en onder druk verkeerde besluite neem, maar bedrog en selfs korrupsie deur staatsamptenare, wat veronderstel is om ‘n diens te lewer aan gemeenskappe, moet blootgelê word.


OFM News


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.