On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Local News

Honde-eienaars gewaarsku ná die vergiftiging van diere

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 08:41 Wed, 15 Jun 2016

Honde-eienaars gewaarsku ná die vergiftiging van diere | News Article

Bloemfontein - Die polisie in die Vrystaat en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) doen ‘n beroep op honde-eienaars om voorvalle aan te meld waarin honde deur booswigte vergiftig word om makliker toegang tot eiendomme te verkry.

Dit kom nadat voorvalle van vergiftiging sedert die begin van die jaar in Welkom, Virginia en omliggende gebiede toenemend voorgekom het. Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die mees onlangse voorval waarin vier honde op ‘n erf in Bedelia in Welkom vergiftig is nie.

Daar is in die motorhuis ingebreek en ‘n motorfiets is gebuit terwyl die eienaars geslaap het. Hulle het eers die volgende dag op hul dooie honde afgekom. Hy sê sodra eienaars vermoed hul honde is vergiftig, moet dit aangemeld word sodat dié woongebiede onder meer intensief gepatrolleer kan word. Die voorsitter van die DBV se Virginia-tak, Thea Smit, sê sedert Januarie is sowat 50 voorvalle in dié gebied aangemeld.

Smit beaam Thakeng se versoek dat voorvalle van vergiftiging aangemeld moet word. “Laat weet ook jou bure, want in baie gevalle word jou honde vergiftig, omdat hulle ook ‘n lawaai gaan maak as daar by jou bure ingebreek word.” Sy sê daar moet rekord gehou word van die voorvalle sodat statistieke beskikbaar is. Honde is nie slegs daar om eiendom te beskerm nie, hul veiligheid moet ook in ag geneem word.

Sy beveel aan dat honde veral snags, indien moontlik, in die huis slaap of in ‘n buitekamer wat nie aan die straat grens nie. Dit kan voorkom dat honde vergiftig word. Sy glo honde is meer werd as hulle in die huis is, want hulle kan hul eienaars waarsku as daar indringers is.

Thakeng sê mense moet juis na só ‘n voorval hul veiligheid ook opskerp. Plaaslike buurtwagte en veiligheidsmaatskappye moet in kennis gestel word. ‘n Klag van opsetlike saakbeskadiging kan by die polisie aangemeld word wanneer honde vergiftig word.

Smit sê huiseienaars kom in sommige gevalle eers die volgende oggend op hul vergiftigde honde af. Dan is daar in buitekamers of motorhuise ingebreek. In ander gevalle is honde vergiftig sonder dat daar ingebreek is. Daar was dalk elders in die straat ‘n inbraak. Sy sê honde word hoofsaaklik snags vergiftig. Die gevreesde, dodelike Two-Step word in onder meer rou vleis versteek en vir honde gegooi om te vreet.

Vergiftigde honde moet spoedig na ‘n veearts of die DBV geneem word. Honde kan simptome soortgelyk aan ‘n epileptiese aanval toon. Dit sluit in die swaar beweging van ledemate, braking en speeksel uit die hond se mond. Geaktiveerde houtskool of ‘n lakseermiddel kan help, sê sy. Dit is egter uiters noodsaaklik om steeds mediese hulp te kry.

Intussen sê Reinette Meyer, ’n senior inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, sover bekend was daar nie onlangs enige soortgelyke voorvalle in Bloemfontein nie. Die polisie het dit ook bevestig. Meyer sê dit is egter belangrik dat inwoners ingelig word oor hierdie tipe misdaad.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.