On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Local News

Beseerde hond en eienaars herenig

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:37 Mon, 16 May 2016

Beseerde hond en eienaars herenig | News Article
Bruno

Bloemfontein - 'n Jong Doberman-reun, wat in Bloemfontein onder ‘n motor beland het en deur weldoeners gered is, is veilig terug by sy eienaars.

Bruno het Donderdagaand in die stortreën voor ‘n motor ingehardloop en is sowat 50 meter ver gesleep voordat die bestuurder van die motor daarvan bewus geword het iets is nie pluis nie.

ER24 se takbestuurder, Lucas Bezuidenhout, en Wimpie Geyer van AfriForum se Sektor 4-buurtwag, het die beseerde hond onder die motor uitgehaal en na die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem.

Bruno het meestal snywonde opgedoen en is behandel. Die hond se eienaars het eers Vrydagoggend agtergekom hy is weg.

Annelie du Plessis sê sy het Donderdagmiddag tyd saam met haar vierjarige reun deurgebring. Hy het ook sy kos gekry voordat die gesin dié aand vir ‘n wyle nie tuis was nie. Hulle het met hul terugkeer gedink Bruno is veilig in sy hok.

Du Plessis sê hulle was baie bekommerd oor hom en het oral gesoek. Die polisie is selfs ontbied en later is die DBV gebel. Die verligting was groot toe hulle Saterdag met Bruno herenig is.

Die trane het gevloei. Bezuidenhout se dogter, Mandie, was aanvanklik skepties toe die DBV Vrydagmiddag bevestig het dat hulle ‘n verlore swart Doberman-reun ingeneem het. Du Plessis sê met die eerste oogopslag het hulle geweet dit is hul Bruno.

Sy’t aan hom gesê, “hello ou Bruno’tjie,” en hy het net na haar gekyk. Du Plessis sê sy praat baie met Bruno wat dan ewe gehoorsaam haar bevele uitvoer. Toe Bruno dadelik gereageer het op haar bevel om te sit, het sy geweet dit is haar hond.

Die Du Plessis-gesin is dankbaar dat Bruno veilig tuis is, maar weet steeds nie hoe hy uit hul erf gekom het nie.

Du Plessis sê hulle het aanvanklik vermoed hy is gesteel, daarom het sy die polisie ontbied. Geen hek in die erf het oopgestaan nie en Bruno het nooit vantevore oor hul heining gespring nie, sê sy.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.