On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

‘Ons sing vir hulle’ – vrywilligers wat diere ná brande in Los Angeles versorg

───   13:17 Fri, 17 Jan 2025

‘Ons sing vir hulle’ –  vrywilligers wat diere ná brande in Los Angeles versorg | News Article
Van die perde wat by die sentrum in Los Angeles versorg word. Foto: BBC

Honderde diere wat sonder heenkome was tydens die verwoestende brande in Los Angeles in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het skuiling by ’n perdrysentrum in dié stad gevind.

Die BBC berig talle eienaars het hul perde met sleepwaens na die Los Angeles Equestrian Centre gebring. 

“Die sleepwaens het aangekom binne ure nadat die brande ontstaan het. Sommige perde het alleen gekom, ander in sleepwaens gepak met ander diere. Baie het hul eienaars by hulle gehad of vrywilligers.

“Varke, donkies en miniatuurperde het ook gekom,” sê Jennie Nevin, woordvoerder van die perdrysentrum. 

Die perdrysentrum is een van die stad se grootste diereskuilings. Foto: BBC

“Verlede Dinsdag en Woensdag was chaos. Ons het elke perd wat aangekom het, aangeteken en seker gemaak dat hulle met hul eienaars herenig kon word. Die diere word gratis versorg danksy skenkings van hooi, voer en ander voorrade.”

Die sentrum is binne 24 uur in 'n hedendaagse Noag se ark omskep. Meer as 200 perde is ingeneem, buiten die sowat 500 wat reeds daar woon. “Die perde hou daarvan as jy vir hulle sing,” sê die vrywilliger Lucena Herrera aan die BBC.

Die perde word deur vrywilligers versorg. Foto: BBC

Die meeste van die diere se eienaars is geïdentifiseer. Twee donkies, Morris en Mika, is met hul eienaar herenig nadat hy sy selfoonnommer aan hulle kante gespuitverf het voordat hulle die berg af voor die brand uitgevlug het.

“Om te sien hoe eienaars met hul perde herenig word, is een van die hartroerendste ervarings vir die vrywilligers. Dit is wonderlik om te weet jy het 'n klein aandeel gehad om iemand ’n bietjie gemoedsrus te gee in ’n tragiese tyd."

Twee donkies word deur vrywillige werkers vertroetel. Foto: ABC News

Van die diere is nog nie opgeëis nie. Die eienaar van 'n miniatuurperd met die naam Izzy het ’n week ná die brande steeds nie opgedaag nie. Sy sal by die sentrum bly totdat sy ’n nuwe permanente tuiste kan kry.

So baie vrywilligers het opgedaag om die diere te help dat die personeel van hulle moes wegwys. Tot soveel as 100 vrywilligers hark die stalle, dra voer aan, pluis die hooi en natuurlik – sing vir die diere.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.