International
Noordwes: Man in hof ná diefstal van ambulans, pasiënt en al─── 11:46 Mon, 30 Dec 2024
’n Man (24) wat na bewering ’n ambulans met ’n pasiënt daarin gesteel het, is blitsig ná die beweerde diefstal in hegtenis geneem.
Die verdagte het glo die ambulans vroeg Vrydagoggend (27/12) buite die plaaslike hospitaal gesteel, sê kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.
“Nooddienste was besig om ’n pasiënt wat na ’n ander hospitaal vervoer moes word in die ambulans te laai.” Die verdagte het na bewering die ambulans gesteel met die pasiënt en al.
Pasiënt ongedeerd
Die polisie is onmiddellik in kennis gestel. Die verdagte is kort daarna opgespoor in die nedersetting Tshing, Ventersdorp, en in hegtenis geneem. Die pasiënt is ongedeerd gevind. Hy sal Maandag (30/12) in die landdroshof verskyn.
Genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die polisie bedank vir hul flinke optrede om hom aan te keer.
Maar in Amerika…
Twee weke gelede het die polisie in Memphis in die Amerikaanse deelstaat Tennessee ’n man agternagesit wat ook ’n ambulans by ’n hospitaal gesteel het. Beamptes het hom teen ’n hoë spoed op ’n snelweg gevolg tot hy met die ambulans in ’n polisievoertuig vasgejaag het, berig Fox 13 Memphis.
Reco Dickson. Foto: MPD
Dickson (31) het na bewering sy kans waargeneem toe die ambulansbestuurder die oggend buite die hospitaal geparkeer en uitgeklim het om ’n pasiënt uit ’n rolstoel op ’n draagbaar te help. Kringtelevisiebeeldmateriaal het gewys hoe ’n man in die ambulans klim en wegry.
Die polisie het die ambulans opgespoor, maar Dickson het geweier om stil te hou. Toe die polisie tot teen die ambulans ry het hy in een van hulle voertuie vasgejaag.
Hy word aangekla van die diefstal van eiendom van tussen R1,125 miljoen en R4,69 miljoen, die ontduiking van inhegtenisneming omdat hy weggejaag het, roekelose bestuur, die bestuur van ’n voertuig nadat sy rybewys opgeskort, gekanselleer of herroep is, en weerstand teen amptelike aanhouding.
’n Vermeende ambulansdief het in November buite Jerusalem in ’n polisievoertuig vasgejaag. Foto: Jerusalem-polisie
En in Israel het ’n man ’n ambulans op Saterdag 16 November van ’n mediese sentrum in Jerusalem gesteel. Die polisie het hom agternagesit en eindelik voorgekeer op ’n dorpie naby die stad, berig Ynetnews. Niemand is beseer nie.
Die polisie het ’n padversperring opgestel nadat hulle ’n noodberig ontvang het oor ’n ambulans wat roekeloos bestuur word. Hulle het vir die bestuurder beduie om stil te hou, maar die man het geweier en ook in ’n polisievoertuig vasgejaag. Net geringe skade is aangerig.
OFM Nuus dg