On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

International

Oekraïne se kragnetwerk steier onder ‘massiewe’ aanvalle op Kersoggend

───   10:11 Wed, 25 Dec 2024

Oekraïne se kragnetwerk steier onder ‘massiewe’ aanvalle op Kersoggend | News Article
Inwoners van Kijif skuil op Kersoggend op moltreinstasies. Foto: treusuresweblog.com

Oekraïne se president meen Rusland se aanvalle op sy land op Kersoggend (25/12) is “’n doelbewuste keuse, nie net van teikens nie, maar ook van tyd en datum”.

“Elke massiewe Russiese aanval neem tyd om voor te berei,” sê Wolodimir Zelenski. “Dit is nooit ’n spontane besluit nie. Vandag het (Rusland  se pres. Wladimir) Poetin doelbewus Kersdag gekies vir ’n aanval.

“Wat kan meer onmenslik wees? Meer as 70 missiele, insluitend ballistiese missiele, en meer as honderd aanvalshommeltuie. Die teikens is ons energiesektor. (Rusland) bly veg vir ’n totale kragonderbreking in Oekraïne.”

Mense skuil in ’n moltreinstasie in Kijif tydens ’n vorige Russiese lugaanval. Foto: Facebook/Maia Mikhaluk

Terwyl mense wêreldwyd Woensdag wakker geword het met die vooruitsig van ’n vreedsame en vreugdevolle dag saam met geliefdes, is Kersoggend vir Oekraïners ingelui met sirenes, ontploffings en verwoesting.

“Volgens voorlopige data kon ons verdedigers meer as 50 missiele en ’n beduidende deel van die hommeltuie neerskiet,” sê Zelenski. “Ongelukkig het baie hul teikens getref. Op hierdie stadium is daar kragonderbrekings in verskeie streke. Energiepersoneel werk daaraan om die kragtoevoer so gou moontlik te herstel.”

Die BBC berig verslaggewers in die hoofstad, Kijif, se selfone het van vroegdag af gegons van waarskuwings deur Oekraïne se lugverdedigingsmag oor ál meer missile wat Rusland op stede landwyd afvuur.

Skade ná ’n Russiese aanval op Oekraïne op 21 Desember. Foto: Oleksandr Ratashniak

DTEK, Oekraïne se grootste privaat energiemaatskappy, sê hy voer herstelwerk uit aan sy termiese kragsentrales nadat dit ernstig beskadig is in aanvalle. In die laaste maande het Rusland die meeste van Oekraïne se kragnetwerk sistematies beskadig of vernietig, wat gelei het tot noodkragonderbrekings in Kijif, die derde grootste stad, Dnipro, en ander streke.

Blykbaar wou Rusland die land op Kersoggend in duisternis dompel, meen Will Vernon, BBC-verslaggewer in Kijif. Sergi Loeisak, streekshoof van die Dnipro, glo Rusland poog om sy streek se kragstelsel te vernietig. Hy skryf op Telegram die streek loop deur onder “massiewe” aanvalle en waarsku mense moet skuiling soek wanneer lugaanvalsirenes loei.

Kragbeperkings is ingestel in die Dnipro-oblast, Kijif en Odessa terwyl kragmaatskappye wag tot dit moontlik is om die omvang van die skade te bepaal.

Wolodimir Zelensk, Oekraïne se president. Foto: Kyiv Post

In Kijif bring duisende inwoners Kersoggend op moltreinstasies deur terwyl Rusland onverpoosd lugaanvalle loods. Die naasgrootste stad, Charkif, loop ook deur onder ’n geweldige missielaanval, sê burgemeester Ihor Terechof.

Teen 09:00 Woensdagoggend is ses beserings aangemeld. Die aanvalle op drie distrikte het brande in talle geboue veroorsaak, terwyl ’n aanval deur ’n hommeltuig ’n woonhuis aan die brand laat slaan het.

Zelenski bedank “almal wat tans vir die land werk, wat op gevegsdiens is, wat ons lugruim beskerm. Kom ons herstel soveel ons kan. Russiese boosheid sal Oekraïne nie breek nie en Kersfees nie verdraai nie.”

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.