On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

International

Sirië wil nuwe toekoms bou ná einde van Assad-diktatuur

───   07:18 Mon, 09 Dec 2024

Sirië wil nuwe toekoms bou ná einde van Assad-diktatuur | News Article
Abu Mohammed al-Golani, HTS-leier (naasregs). Foto: X

Terwyl die stof gaan lê oor die dramatiese ondergang van Sirië se jare lange heerser, Bashar al-Assad, begin die land se politieke toekoms voorlopig vorm aanneem.

Hayat Tahrir al-Sham (HTS), die sterkste Siriese opposisiegroep, vra vryheidsvegters moet na hul onderskeie basisse terugkeer en hul wapens neerlê terwyl Sirië voorberei op sy volgende hoofstuk. Abu Mohammed al-Golani, HTS-leier, spoor vryheidsvegters aan om chaos te help vermy.


Al-Golani het Mohammed Ghazi al-Jalali, Sirië se voormalige premier, aangestel om toesig te hou oor staatsinstellings en toe te sien maatskaplike dienste gaan ongestoord voort. 

Al-Jalali, wat gevange geneem en uit sy kantoor begelei is, het verklaar dat hy bereid is om die mag oor te gee en met die rebelle saam te werk. Hy het die behoefte aan ’n vrye en regverdige verkiesing beklemtoon en die versekering gegee dat geen Siriër benadeel of teen gediskrimineer sal word nie.

Luidens berigte kan ’n ooreenkoms binnekort bereik word om die mag aan ’n tussentydse regering oor te dra. Siriese rebelle het ’n aandklokreël van 13 uur in Damaskus ingestel om beheer oor die stad en sy instellings te handhaaf. Die hoofstad was Sondagaand (8/12) verlate, in skrille kontras met die vieringe die vorige aand.

Die Israeliese weermag het Sondag gesê dat hy soldate na “ander plekke gestuur het wat nodig is vir sy verdediging”. Hulle is na ’n buffersone op die Golanhoogland ontplooi om “inwoners se veiligheid te verseker” in die Israelies beheerde gebiede wat aan Sirië grens.  

’n Paar uur later het Benjamin Netanyahu, Israel se premier, aangekondig hy het sy soldate beveel om die buffersone op die Golanhoogland te beset wat deur ’n skietstilstand van 1974 met Sirië ingestel is.

Netanyahu het Sondag gesê die 50-jarige ooreenkoms het in duie gestort en die situasie het Israeliese oorname genoodsaak nadat Siriese soldate hul pos laat vaar het.

Die Arabiese Bond veroordeel Israel en beskuldig die Joodse staat daarvan dat hy voordeel trek uit Assad se val deur meer Siriese gebiede te beset.

Die Siriese regering het in duie gestort ná ’n twaalf dag lange rebelleoffensief, wat die Assad-familie se halfeeu lange bewind beëindig het. ’n Koalisie van rebellegroepe, onder leiding van HTS, het ’n verrassingsaanval uitgevoer, groot dele van Aleppo in beslag geneem en tot in Damaskus gevorder. Assad se magte, verswak deur die gebrek aan steun van Rusland en Iran, het vinnig teruggetrek.

Dit was onbekend waar die diktator en sy gesin hulle bevind het, totdat Russiese staatsmedia aangekondig het hulle het in Moskou aangekom, waar hulle asiel toegestaan is. 

Die tydsberekening van die rebelleaanval was deurslaggewend aangesien Assad se bondgenote besig was met hul eie konflikte. Rusland is vasgevang in sy oorlog teen Oekraïne, terwyl Iran deur sy gevolmagtigdes Hamas en Hezbollah stryd voer teen Israel.

Die ineenstorting van Assad se regering is ’n belangrike keerpunt vir Sirië. Die wêreldgemeenskap hou fyn dop hoe Sirië oorgaan na ’n nuwe era, in die hoop op stabiliteit en vrede in die oorloggeteisterde nasie.

Pres. Joe Biden het volgens News19 Sondag gesê dat die skielike ineenstorting van die Siriese regering onder Assad ’n “fundamentele daad van geregtigheid” is ná dekades van onderdrukking, maar dis ’n “oomblik van risiko en onsekerheid” vir die Midde-Ooste.

Biden het in die Withuis gepraat ure nadat rebellegroepe ’n oorname van die land voltooi het ná jare van ’n gewelddadige burgeroorlog en dekades van alleenregering deur Assad en sy familie. Biden het gesê die Verenigde State monitor berigte oor waar Assad is.

Biden het die optrede deur die VSA en sy bondgenote geloof vir die verswakking van Sirië se ondersteuners – Rusland, Iran en Hezbollah. Hy het gesê hulle kon nie meer Assad se magsgreep verdedig nie. “Ons benadering het die magsbalans in die Midde-Ooste verskuif,” het Biden gesê ná ’n vergadering met sy nasionale veiligheidspan.

OFM Nuus cg/mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.