On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

International

Dodeliker a-pokke tot wêreldwye gesondheidskrisis verklaar

───   07:42 Thu, 15 Aug 2024

Dodeliker a-pokke tot wêreldwye gesondheidskrisis verklaar | News Article
Die WGO het sy noodkomitee byeengeroep te midde van kommer dat ’n dodeliker stam van die a-pokke-virus, klade 1b, vier voorheen onaangeraakte Afrika-lande bereik het. Foto: X

“Die opsporing en vinnige verspreiding van die nuwe virusstam van a-pokke in die ooste van die DRK en die potensiaal vir verdere verspreiding in Afrika en buite die kontinent se grense is baie kommerwekkend.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Woensdag (14/8) die voortdurende uitbreking van a-pokke in Afrika tot ’n wêreldwye gesondheidskrisis verklaar.

CNN berig die WGO het sy noodkomitee byeengeroep te midde van kommer dat ’n dodeliker stam van die virus, klade 1b, vier voorheen onaangeraakte Afrika-lande bereik het. Hierdie virusstam was voorheen beperk tot die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Die onafhanklike kundiges het Woensdag beraadslaag om Tedros Adhanom Ghebreyesus, die WGO se direkteur-generaal, te adviseer oor die erns van die uitbreking. Hy het daarna in ’n aankondiging ’n openbare gesondheidskrisis van internasionale belang verklaar – die grootste waarskuwing moontlik ingevolge internasionale gesondheidswetgewing.

“Die opsporing en vinnige verspreiding van die nuwe virusstam van a-pokke in die ooste van die DRK, die opsporing daarvan in buurlande wat nie voorheen a-pokke aangemeld het nie en die potensiaal vir verdere verspreiding in Afrika en buite die kontinent se grense is baie kommerwekkend,” sê hy. 

“Die noodkomitee het vergader en my ingelig dat die situasie ’n openbaregesondheidskrisis van internasionale belang is. Ek het daardie raad aanvaar.”

Die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (Africa CDC) het Dinsdag (13/8) die uitbreking tot ’n openbare gesondheidskrisis van kontinentale belang verklaar, die eerste verklaring van dié aard deur die agentskap sedert sy ontstaan in 2017.

Sedert begin vanjaar is meer as 17 000 gevalle van a-pokke en meer as 500 sterftes in 13 Afrikalande aangemeld, wat die uitbreking as ’n “baie hoë-risiko-gebeurtenis” klassifiseer. Die hoogste getal gevalle – meer as 14 000 – is in die DRK, wat vandeesmaand 96% van die bevestigde gevalle aangemeld het.

A-pokke is ’n virussiekte wat maklik tussen mense en besmette diere kan versprei. Dit kan versprei deur noue kontak soos aanraking, soen of seks, sowel as deur besmette materiaal soos lakens, klere en naalde, volgens die WGO. Simptome sluit in ’n koors, ’n pynlike uitslag, hoofpyn, spier- en rugpyn, lusteloosheid en vergrote limfknope.

‘Entstowwe is meer geredelik beskikbaar’

Dekades lank het die siekte hoofsaaklik in Sentraal- en Wes-Afrika voorgekom, maar omstreeks 2022 het dit ook na Europa en Noord-Amerika begin versprei. Die WGO het in Julie daardie jaar die verspreiding van a-pokke tot ’n wêreldwye gesondheidskrisis verklaar en dié verklaring in Mei verlede jaar opgehef.

Die Amerikaanse regering het finansiering, bystand en entstowwe aan die WGO en die DRK gebied om pogings in Afrika te ondersteun.

Die organisasie het die Noodgebruik-lysproses vir a-pokke-entstowwe afgeteken en ’n streeksreaksieplan ontwikkel wat $15 miljoen vereis, waarvan $1,5 miljoen afgestaan word aan die WGO se gebeurlikheidsfonds vir noodgevalle.

Volgens Tim Nguyen van die WGO se gesondheidsnoodprogram is daar ’n voorraad van ’n halfmiljoen dosisse van die entstof, en nog 2,4 miljoen kan moontlik teen einde vanjaar vervaardig word. Dr. Abdou Salam Gueye, direkteur van Afrika-streeknood, voeg by dat die DRK en Nigerië die eerstes sal wees wat hierdie entstowwe ontvang.

Die organisasie het beklemtoon dat entstowwe slegs deel van die reaksie is. Om verspreiding te voorkom, sal verhoogde toesig, diagnostiek en navorsing ook vereis word om begrip van die siekte te verbeter.

‘Bevestigde gevalle van a-pokke net punt van ysberg'

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die Advieskomitee vir die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming, sê gevalle van a-pokke word waarskynlik ondergerapporteer weens beperkte toetsvermoë.

Hoe versprei a-pokke? Illustrasie: Rafa Estrada

Karim sê die huidige verslae bied slegs ’n gedeeltelike prentjie van die situasie en die getal gevalle is waarskynlik hoër.

Hy sê Afrika het tans baie meer gevalle as toe die WGO a-pokke tot ’n openbare gesondheidskrisis verklaar het. “Dit is baie duidelik dat ons nou met ’n ander situasie te doen het – ’n situasie waar die gevalle veel meer is as wat ons die afgelope jaar en die afgelope twee jaar gesien het.”

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.