On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

International

Britte belê noodvergadering ná naweek van geweld

───   07:20 Mon, 05 Aug 2024

Britte belê noodvergadering ná naweek van geweld | News Article
Betogers in Engeland. Foto: X

“Ek waarborg dat jy spyt sal wees dat jy aan hierdie wanorde deelgeneem het, hetsy direk, óf een van diegene wat hierdie wanorde aanlyn opgesweep het.”

Terwyl Brittanje sukkel met die ergste onluste in jare, het oproeriges Sondag (4/8) eiendom aan die brand gesteek en by hotelle vir asielsoekers in Noord-Engeland ingebreek. 

Volgens CNN was die mesdood verlede week van drie jong meisies in Southport, Noordwes-Engeland, die oorsaak van die onluste.

Om anti-Moslem- en anti-immigrasiebetogings aan te blaas, het die verregses na bewering waninligting uitgebuit en versprei.

Die Britse regering het Sondag toenemend druk ervaar om ’n einde te bring aan Engeland se ergste oproer in 13 jaar, nadat onluste deur verregse oproeriges op die kindermoorde gevolg het en landwyd opgevlam het. Die onrus ná moontlik waninligting oor die massa-aanval in die dansklas het na verskeie dorpe en stede versprei waar anti-immigrasiebetogers met die polisie slaags geraak het.

Die geweld is ’n groot toets vir eerste minister Keir Starmer, wat slegs ’n maand gelede verkies is, nadat hy die Arbeidersparty tot ’n groot oorwinning gelei het.

Die gewelddadige botsings tussen verregse betogers en die polisie in Southport, Noordwes-Engeland, het begin ’n dag ná (30/7) drie jong meisies in ’n mesaanval op ’n dansskool se Taylor Swift-klas dood is. Nagenoeg 40 polisiebeamptes is beseer nadat mense bakstene na ’n moskee en bottels na die polisie gegooi en voertuie aan die brand gesteek het.

Dit is aangevuur deur onbevestigde berigte dat die Brits gebore 17-jarige verdagte van die mesaanval ’n Rwandese Moslem is.

Starmer, het gesê die groep het ’n vreedsame diens gehou vir diegene wat in die aanval beseer en dood is, wat toe gekaap is.

Downing Street het bevestig ’n noodvergadering sou Maandag (5/8) gehou word nadat meer as 150 mense die naweek in hegtenis geneem is ná toenemende geweld in Britse dorpe en stede. Die polisie het Sondag gereageer op gewelddadige tonele in Rotherham, Middlesbrough, Bolton en ander dele van die VK.

Starmer het ’n aanval op ’n hotel wat asielsoekers in Rotherham huisves veroordeel en belowe dat diegene wat by onrus betrokke is, met “die volle mag van die wet” te doen sou kry.

Taylor Swift (34) het gesê sy is geskok oor die afgryse van wat gebeur het nadat kinders in Southport aangeval is wat ’n dansklas bygewoon het wat deur haar musiek geïnspireer is.

Drie kinders van nege, sewe en ses is dood nadat hulle met ’n mes aangeval is by die les wat by ’n laerskool in die omgewing gehou is. ’n Jong man het glo die kamer binnegekom en die kinders met ’n mes begin aanval. Dit is nie duidelik wat sy motief was nie. Die polisie is na die toneel ontbied.

‘Hierdie was net klein kindertjies by ’n dansklas’

Agt ander kinders het glo steekwonde opgedoen. Vyf van die agt is steeds in ’n kritieke toestand. Twee volwassenes is beseer terwyl hulle probeer het om die kinders te beskerm.

Sky News berig dat ’n seun (17) van Banks in Lancashire ná die aanval in hegtenis geneem is op vermoede van moord en poging tot moord. Hy bly in aanhouding. Volgens die publikasie het die polisie gesê hulle glo nie die aanval was terreurverwant nie.

Swift het op Instagram gegaan oor die voorval gepraat. “Die afgryse van die aanval in Southport spoel voortdurend oor my en ek is net heeltemal geskok,” sê Swift op Instagram Stories.

“Die lewensverlies en onskuld, en die verskriklike trauma wat aan almal wat daar was, die families en nooddienswerkers toegedien is. Dit was net klein kindertjies by ’n dansklas. Ek is heeltemal verlore oor hoe om my simpatie aan hierdie families oor te dra.”

Die eerste minister het belowe om te doen “wat ook al nodig is om hierdie boewe voor die gereg te bring” terwyl hy die nasie toegespreek het te midde van oproer in die strate van die VK.

“Ek waarborg dat jy spyt sal wees dat jy aan hierdie wanorde deelgeneem het, hetsy direk, óf een van diegene wat hierdie wanorde aanlyn opgesweep het,” sê Starmer in ’n televisietoespraak.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.