On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

International

Trump geskiet

───   07:07 Sun, 14 Jul 2024

Trump geskiet | News Article
Voormalige president Donald Trump het ’n sluipmoordpoging oorleef. Foto: tvcnews

“Ek het dadelik geweet dat daar iets fout is toe ek ’n suisgeluid en skote gehoor het.”

Amerika se oudpres. Donald Trump is Saterdagaand in die oor geskiet terwyl hy op ’n saamtrek in Butler, Pennsilvanië, gepraat het in ’n voorval wat ondersoek word as ’n sluipmoordpoging.

Trump was in die middel van sy toespraak – met sy kop effens na regs gedraai – toe die geluid van verskeie geweerskote skielik opklink.

‘Ons het ’n sluipmoordpoging op ons gewese president Trump gehad’

Hy het sy regteroor gegryp en op die grond geval terwyl lyfwagte en geheime agente hom beskerm het terwyl verdere geweerskote gehoor kon word.

Een van die mense in die skare is dood en twee is kritiek beseer, volgens CNN.

Die FBI se Kevin Rojek het bevestig dat die voorval as ’n sluipmoordpoging ondersoek word. “Vanaand het ons, wat ons noem ’n sluipmoordpoging op ons voormalige president Donald J Trump gehad,” het hy gesê. 

“Dit is steeds ’n aktiewe misdaadtoneel,” het hy bygevoeg en daarop gewys dat hulle ’n aantal agente op die toneel het wat die voorval ondersoek.

’n Video wat op sosiale media geplaas is, wys hoe die vermeende Trump-skieter roerloos op die dak van ’n nabygleë gebou lê.

Terwyl die laaste skote afgevuur is, was daar harde gille van die skare. Ongeveer 45 sekondes nadat die oudpresident geskiet is, is agente gehoor wat sê: “Die skieter is geneutraliseer.”

“Kan ons beweeg?” het ’n ander agent gevra.

“Is ons pad oop?” vra nog een.

“Ons kan gaan!” het ’n ander agent gesê terwyl hulle Trump op sy voete gekry het – met ’n bebloede oor en ’n bloedstreep oor sy gesig. Die skieter was toe reeds deur die geheime diens geneutraliseer, het die agentskap in ’n verklaring gesê.

‘Fight, fight, fight!’ 

Terwyl die agente Trump van die verhoog af na sy nabygeleë voertuig wou skuif, het hy hulle aangesê om te wag. Trump het sy vuis in die lug gepomp en die woord “fight” drie keer met sy mond gevorm. 

Die juigende skare het toe “USA!” begin skree terwyl die oudpresident na sy voertuig geneem is.

Wetgewers vra reeds ondersoek

Die skokkende voorval wat Trump se lewe bedreig het, laat ernstige vrae ontstaan oor veiligheid en hoe op die voormalige president geskiet is, met wetgewers wat reeds gevra het vir 'n ondersoek na die staat se geheime diens se hantering van Saterdag se saamtrek. 

Die skietery kom net voor Trump die 2024- presidensiële benoeming gaan aanvaar op die Republikeinse Nasionale Konvensie hierdie komende week.

Pres. Joe Biden het die skietery Saterdagaand veroordeel en gesê dit was "siek" in opmerkings in Rehoboth Beach, Delaware, en die Withuis het gesê hy het later telefonies met Trump gepraat.

Die aanval op Trump tydens sy veldtogsaamtrek in Pennsilvanië het die kollig geplaas op die oënskynlike sekuriteitsverval en sommige wys ook vingers na die geheime diens omdat hy ’n aanvaller laat verbyglip het.

Trump het self die geheime diens en ander wetstoepassers bedank “vir hul vinnige reaksie op die skietery wat pas plaasgevind het”.

Mike Johnson, speaker van die Amerikaanse Huis, het belowe dat die huis ’n volledige ondersoek sal doen. In ’n plasing op X het die speaker gesê: “Die Amerikaanse volk verdien om die waarheid te weet.

Die geheime diens het ingestem om die huis oor die aanval in te lig, het ’n woordvoerder aan The Hill bevestig.

Rojek het gesê ondersoekers is na daaraan om die identiteit van die skieter te bevestig, maar gaan nog nie die naam bekend maak nie. Beamptes het gesê hulle glo daar is geen ander bedreiging nie. Rojek het bygevoeg dat hulle nog nie die skieter se motief geïdentifiseer het nie.

Trump het Saterdagaand op sosiale media die skietery beskryf en die geheime diens en wetstoepassing bedank vir hul reaksie. “Ek is geskiet met ’n koeël wat die boonste gedeelte van my regteroor deurboor het. Ek het dadelik geweet dat daar iets fout is toe ek ’n suisgeluid en skote gehoor het. 

"Ek het gevoel hoe die koeël deur die vel ruk. Dit het baie gebloei, so ek het toe besef wat gebeur het. GOD SEËN AMERIKA!” het Trump geskryf.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.