International
Geitjie reis van Egipte na Engeland in pakkie aarbeie─── 16:21 Thu, 26 Jan 2023
’n Baba-geitjie word deur die koninklike dierebeskermingsvereniging in Brittanje gepamperlang nadat hy in ‘n pakkie aarbeie beland het wat meer as 4800km ver in Egipte verpak is.
Die geitjie, wat met sy aankoms sowat 2,5cm lank was, het boonop onderweg sy stert verloor, berig UPI.
Nikita Moran, wat die pakkie aarbeie by ‘n plaaslike winkel in Manchester gekoop het, het aanvanklik gedink die beweging wat sy uit die hoek van haar oog gesien het was dié van ‘n spinnekop.
"Toe ek weer kyk, sien ek hierdie piepklein geitjie. Ek kon dit nie glo nie. Dit het op-en-wakker gelyk en ek het dit op 'n lepel gekry en in 'n plastiekhouer gesit waar dit baie, baie vinnig beweeg het."
‘n Inspekteur van die DBV, Rachel Henderson, is na Moran se huis ontbied om die geitjie te gaan haal.
Henderson sê sy was verbaas om te sien hoe klein die geitjie was. “Ek moet erken ek het verwag om met iets effens groter begroet te word! Toe ek die houer oopmaak, moes ek twee keer kyk om te sien waar die geitjie is.
“Ek het geen idee hoe iets só klein vir só lang tyd in 'n verseëlde houer oorleef het nie."
Die geitjie is na ‘n plaaslike veearts geneem waar bevind is dat hy in goeie gesondheid verkeer, afgesien van sy vermiste stert wat na verwagting weer sal teruggroei.
Dit word tans by die Reptilia-bewaringsentrum vir eksotiese diere versorg en sal hervestig word sodra sy kwarantyntydperk verby is.